Nasionaal toon Oudtshoorn grootste vooruitgang

DIE MASSIEWE omkeerwerk wat sedert 2016 binne die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit ten opsigte van finansiële bestuur gedoen is, het erkenning gekry in ’n studie van Ratings Afrika wat bevind het dié munisipaliteit het tussen 2016 en 2020 die grootste verbetering van alle munisipaliteite landwyd getoon.

Dié studie van Ratings Afrika, ’n hoogaangeskrewe graderingsagentskap, is verlede Donderdag (20 Mei) op die webtuiste van Moneyweb gepubliseer.

Die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit het verbeter vanaf ’n telling van 17 in 2016 na 48 in 2020.

Moneyweb het Ratings Afrika gevra om ’n lys op te stel van die munisipaliteite wat in vyf jaar – van 2016 tot 2020 – die meeste verbeter het en ook die meeste agteruitgegaan het. Die 105 grootste plaaslike munisipaliteite en agt metros in Suid-Afrika is beoordeel op grond van ses komponente: bedryfsprestasie, likiditeitsbestuur, skuldbeheer, begrotings-praktyke, bekostigbaarheid en ont-wikkeling van infrastruktuur. Munisipaliteite is ’n punt toegeken op ’n skaal van een tot 100.

Die munisipaliteite wat die meeste verbeter het, is Oudtshoorn, Theewaterskloof, Kaap Agulhas (almal in die Wes-Kaap) en Midvaal (Gauteng). Die wat die meeste agteruitgegaan het, is Enoch Mgijima (Queenstown, Oos-Kaap), Moses Kotane (Mogwase, Noordwes), Amahlathi (Stutterheim, Oos-Kaap) en Gamagara (Kathu, Noord-Kaap).

Volgens Charl Kocks van Ratings Afrika was daar opsigtelik beter finansiële bestuur op Oudtshoorn.

Die bedryfsverlies het van R48 miljoen in 2016 tot R19 miljoen in 2020 verminder. Die tekort aan bedryfskapitaal van R116 miljoen in 2016 is in 2020 in ’n batige saldo van R48miljoen omgekeer.

Die belegging in infrastruktuur het van R36 miljoen in 2016 tot R70miljoen in 2020 gestyg, wat beter dienslewering tot gevolg sal hê.

Die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chris Macpherson, het raadslede, personeel, inwoners en ander rolspelers bedank wat bygedra het om die munisipaliteit om te swaai van bankrotskap in 2016 tot die munisipaliteit wat die grootste verbetering in die land toon in 2020.

“Dit is hierdie vennootskap tussen die munisipaliteit, inwoners en rolspelers wat Oudtshoorn weer die beste in die land sal maak.”

Schalk le Roux skryf die ironie is dat van die amptenare wat waarskynlik die grootste rol in die ommekeer van die Oudtshoorn munisipaliteit se finansiële situasie gespeel het, as ’t ware van die dorp af verwilder is.

Allen Paulse, vorige munisipale be­stuurder, is onder leiding van Oudts­hoorn se vorige burgemeester, Colan Sylvester, van talle dissiplinêre oortre­dings by die munisipaliteit aangekla asook van talle kriminele oortredings by die SAPD.

Onder leiding van Sylvester is die Webber Wentzel-verslag laat opstel teen ’n koste van heelwat meer as R2 miljoen. Die verslag was ook as deel van die kriminele klagtes wat by die Polisie ingedien is. Die Nasionale Vervolgingsgesag het intussen egter geweier om Paulse te vervolg omdat hulle van mening was dat vervolging onsuksesvol sou wees.

Paulse, wat op verlof geplaas is weens die dissiplinêre klagtes teen hom, het as munisipale bestuurder bedank weens die uitgerekte verpligte verlof en die negatiewe impak wat dit op hom gehad het.

Oudtshoorn se vorige direkteur finansies, Felix Lötter, het ook vroeër saam met die tegniese direkteur, Chris Koch, bedank omdat hul lewe deur onder andere sekere raadslede versuur is.

Paulse, Lötter en Koch het al drie intussen goeie aanstellings by ander munisipaliteite gekry.

Ratings Afrika skryf, ironies genoeg, baie van die probleme by munisipaliteite waarna hulle verwys, daaraan toe dat vaardige en bekwame administrateurs weggejaag is en die deur oopgelaat is vir korrupte en onbe­kwame aanstellings. (Deur Liesel le Roux)

Lees ook vir agtergrond die inligting wat burgemeester Colan Sylvester bekend gemaak het oor die situasie by die munisipaliteit toe ‘n nuwe raad in Augustus 2016 daar oorgeneem het: https://www.diehoorn.com/munisipaliteit/financial-situation-greater-oudtshoorn-municipality-august-2016-march-2017/