Huisarres vir man skuldig aan statutêre verkragting

’N MAN van Dysselsdorp wat aan sta­tutêre verkragting skuldig bevind is, is verlede Woensdag (29 September) in die Oudtshoorn Streekhof ’n opgeskorte vonnis opgelê en vir drie jaar onder huisarres geplaas.

Dillon Loggenberg (28) het ’n pleit- en vonnisooreenkoms met die staat aangegaan waarin hy verduidelik dat hy en die 15-jarige hoërskoolleerder in ’n verhou­ding was en sy tot geslagsgemeenskap ingestem het. Sy het daarna swanger ge­raak en hy het erken dat hy verkeerd opgetree het en gestraf kan word.

Loggenberg se regsverteenwoordiger, Gideon Badenhorst, het die hof versoek om in ag te neem dat hy skuldig gepleit en berou toon oor wat hy gedoen het.

Hy het ook ingestem om ’n bydrae tot die onderhoud van die kind te lewer.

Streeklanddros Daniel Boks was te- vrede dat die ooreenkoms regverdig bereik is, maar het die erns van onbe­plande swangerskap onder jongmense betreur. “Dit is ’n euwel waarteen tot vervelens toe gewaarsku word,” het die landdros gesê.

Loggenberg is volgens die ooreen­koms skuldig bevind en tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is, asook drie jaar korrektiewe toesig.

Hy moet hom weerhou van die gebruik van dwelms en alkohol en nie Dysselsdorp verlaat sonder die kennis van Korrektiewe Dienste nie.

Die hof het ook gelas dat sy naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word. Hy is voorts onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)