BARRYDALE se skopboksers spog nou met twee provinsiale kampioene, en het uitstekende resultate behaal tydens die Wes-Kaapse kampioenskap wat op 3 Oktober by Laerskool Bergvliet in Kaapstad plaasgevind het.
Heinrich Coetzee (24) en Mickyle Erasmus (20) het albei in hul afdelings koning gekraai terwyl dit vir die res van Barrydale se vegters ’n uitstekende geleentheid was om hul vaardighede ten toon te stel.
Coetzee en Erasmus het reeds in 2019 provinsiale roem behaal, maar moes weens die pandemie eers wag om hul passie vir die sport verder uit te leef.
Volgens Panic Room-afrigter, polisiesersant Conroy Williams, is die feit dat twee van die vier vegters wat Barrydale verteenwoordig het provinsiale kampioene is, ’n bewys van die harde werk wat hulle verrig.
“My vegters behaal hierdie sukses deur in my garage en op ’n tatami-mat of by die rolbalklub te oefen. Ons kan ons maar net indink wat ons sal vermag wanneer ons beter geriewe het,” sê hy.
Williams is ’n man wat op Barrydale bekend staan vir sy oop hart waarmee hy sy medemens help. Hy dien in die bestuur van die Rolbal-klub asook die bestuur van Barrydale Hospice en is waarskynlik die eerste mens na wie inwoners uitreik as hulle enige probleme het.
Sy passie vir sport en die waardes wat die jeug daaruit put, dien as ’n inspirasie vir talle minderbevooregte jong seuns en meisies, wat hy teen geen vergoeding nie afrig.
“Vir die seuns om blootgestel te word aan mededinging van hierdie aard is vir hulle die beste beloning vir die harde werk en opofferings wat hulle deur die jaar gedoen het.”
Williams glo dat – wen of verloor – sy seuns werklik manne word wanneer hulle hul vaardighede ten toon stel.
Uit sy motorhuis kan hy egter nie vir te lank nog die opleiding doen nie en daarom is Williams besig om fondse in te samel om ’n “dojo” in Barrydale op te rig.
Oor die langtermyn wil hy ook sy seuns die geleentheid bied om aan internasionale byeenkomste deel te neem, maar vir nou is die “dojo” die hoofdoelwit.
Een van die grootste projekte wat hy tans in samewerking met News62 aanpak, is die Barrydale Fight Night wat op 11 Desember by die Rolbalklub aangebied word.
Hier sal onervare inwoners en ervare vegters mekaar in die kryt ontmoet.
“Ons het verlede jaar so baie pret gehad toe van ons dorpsmense mekaar bietjie getimmer het en ons sien daarna uit om weer ’n uitstekende show aan te bied.”
Vir meer inligting oor die gevegte of om betrokke te raak, skakel gerus vir Williams by 073 160 1338. (Deur Mickey Mentz van News62)
Barrydale-skopboksers kraai koning by kampioenskap
Van links is Mickyle Erasmus, Elaxandre Syster, Conroy Williams, Jabruan Solomons en Heinrich Coetzee het Barrydale met trots tydens die Wes-Kaap se Skopboks Kampioenskappe verteenwoordig. Coetzee en Erasmus is vandag kampioene in hul afdelings. (Foto verskaf)