Oudtshoorniete wat inge- spring het om die horlosie in die kloktoring van die CP Nel Museum weer in werkende toestand te kry, is van links Quintin Boshoff, Madeleine Miles, Johan
Breunissen, Piet Booysen, Jaco Vorster, Dries Jooste, Kobus Diepraam, Abraham May en Cobus Jacobs. Foto: Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
DIE horlosie in die kloktoring van die CP Nel Museum op Oudtshoorn behoort voor die einde van die jaar weer in werkende toestand te wees en gereeld die tyd op die dorp aankondig!
Drie Oudtshoorniete wat betrokke is by die Ek is Oudtshoorn-projek, Johan Breunissen, Jaco Vorster en Madeleine Miles, is die dryfkrag agter dié inisiatief.
Volgens Breunissen het hulle die projek begin as deel van hul mandaat om Oudtshoorn mooi te maak en ander Oudtshoorniete te inspireer om dieselfde te doen.
“As die sypaadjie voor jou huis onnet en lelik is, spring in en maak dit mooi. Moenie wag vir ander om dit vir jou te doen en daaroor kla nie. Raak positief oor ons dorp,” sê Breunissen.
“Die kloktoring beteken niks vir Oudtshoorn soos dit tans daar staan nie, maar deur die horlosie reg te maak, gaan dit musiek na talle Oudtshoorniete en besoekers aan ons dorp se ore bring.”
Die horlosie het in 1995 laas gewerk.
Hy sê inwoners van Gansbaai het van die projek gehoor en hulle gekontak om hul hulp en fondse beskikbaar stel.
Die projek het sowat drie maande gelede afgeskop met die opruiming van die toring binne.
Ses swartsakke vol duiwemis is uit die toring gehaal. terwyl duifeiers tussen van die ratte van die horlosie verwyder moes word.
Die horlosie is deur JW Benson in London vervaardig. Volgens Wikipedia was Benson die koninklike horlosiemaker vir koningin Victoria, die Prins van Wallis en die Tsaar van Rusland.