DIE Wes-Kaapse regering het gister R50 miljoen se nood-droogtehulp aan plase in die provinsie wat onder die huidige droogte ly, goedgekeur. Die fondse sal aangewend word vir voer in die Klein Karoo, Sentrale Karoo en Matzikamma.
“Hierdie droogte se gevolge sal nog jare lank met ons wees, veral in die landelike gebiede waar landbou die hoofdrywer van die ekonomie is,” sê David Maynier, die Minister van Finansies en Ekonomiese Geleenthede.
“As landbou in die Wes-Kaap in duie stort sal dit ’n beduidende sosio-ekonomiese impak op plaaswerkers en plaasgemeenskappe hê.
Die Wes-Kaapse Minister van Landbou, Ivan Meyer, sê die provinsie het ook die nasionale Departement van Landbou genader vir ’n addisionele R147 miljoen se droogtehulp.
Die Wes-Kaapse Departement van Landbou sal voorts ’n verdere R100000 beskikbaar stel vir pastorale en sielkundige steun vir boere en plaaswerkers.
“Hoewel boere probeer om die huidige risiko te bestuur, is daar die vrees dat hulle nie die kapitaal of ander hulpbronne sal hê om hul plase oor die medium-termyn te herbou. nie. As gevolg hiervan word werk- en kossekuriteit bedreig. “
Meyer sê dit sal ten minste drie jaar se gemiddelde of bogemiddelde reënval kos om die droogte te breek.
Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, het die beskikbaarstelling van die R50 mijoen verwelkom.
Volgens Strydom is Agri Wes-Kaap se eie droogtehulpfonds bykans uitgeput.
“Baie produsente staar kontantvloeiprobleme in die gesig met plase se inkomste wat daal terwyl die operasionele koste styg.
“Die gevolg hiervan is ’n humanitêre krisis.”
Die Klein Karoo ervaar tans die vierde jaar van ’n droogte wat lewende hawe en die volstruisbedryf raak, asook lusernproduksie, groentesaadproduksie en vrugte- en wynproduksie.
In sekere areas in die Klein Karoo het landbouaktiwiteite tot stilstand gekom.