Verklaar die Klein Karoo ’n rampgebied, versoek boere

DIE verwoestende gevolge van die droogte in die Klein Karoo het boere van dié streek genoop om, in ’n desperate hulpkreet, die burgemeesters van die Groter Oudtshoorn, George en Kannaland Munisipaliteit te vra om dié gebied tot droogterampgebied te verklaar.

Die gebied strek vanaf die Bo-Kammanassie-area tot by Calitzdorp.

Die versoekskrifte, wat onder meer ook deur die Oudtshoorn Besigheidskamer en verskeie landbou-organisasies ondersteun word, is verlede Vrydag (2 Julie) aan Chris Macpherson, burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Leon van Wyk, burgemeester van George, en Magdaleen Barry, burgemeester van Kannaland, gestuur.

Die plaaslike munisipaliteite is die eerste deur waarby aangeklop moet word om ’n gebied tot rampgebied te laat verklaar en volgens die boere wat die versoek gerig het, is die doel daarvan nie net droogtehulpverligting nie, maar ook om lang-termynoplossings vir watersekuriteit in die Klein Karoo te vind.

Die droogte, wat reeds langer as ses jaar duur, het die landboubedryf in ’n krisis gedompel. Plattelandse dorpe soos Oudtshoorn en Calitzdorp, wat grootliks afhanklik is van die bedryf, kry swaar met baie ondernemings wat reeds hul deure permanent moes sluit.

Die watervlak van die Stompdriftdam en Kammanassiedam, die twee besproeiingsdamme wat water aan die boere in die gebied moet lewer, staan op 6,7% (Stompdrift) en 0% (Kammanassie).

Volgens Gerhard Meyer, bestuurslid van die Stompdrift Kamanassie Watergebruikersvereniging (SKWGV), is dit die laagste damvlakke in die honderdjaar-bestaan van die SKWGV. Tot dusver is winterreënval in die streek ook ondergemiddeld met die verdere gevolg dat daar geen opvolg-leibeurt vir boere wat reeds gesaai het, wagtend op winterreën, gaan wees nie.

“Dit is ’n krisis wat nie langer so kan voortduur sonder permanente skade vir die streek, dorpe, inwoners en sakesektor nie,” sê Meyer.

Laubscher Coetzee, Agri Klein Karoo se verteenwoordiger by Agri Wes-Kaap, sê die droogte het die landbou­bedryf in ’n wurggreep. Die droog-te word as die ergste in dekades bestempel, deur party selfs as die ergste die afgelope eeu.
Volgens Coetzee is die finansiële impak van die droogte “net eenvoudig katastrofies rampspoedig”, en het dit reeds talle boere op hul knieë.

“Om tot rampgebied verklaar te word, beteken dat ons gebied vir droogtehulp in aanmerking kom. Ons wil graag ook die boodskap tuisbring dat ons nie droogtehulp wil sien as slegs finansiële bydraes van die regering aan boere nie, maar dat daar ook holisties na droogtehulp gekyk moet word.

“Daarmee word bedoel dat daar ernstig klem gelê moet word op oplossings betreffende watervoorsiening, opgaarkapasiteit en meer effektiewe waterverspreiding deur middel van pypleidings in die skema.

“Landbou in die Klein Karoo maak nou staat op plaaslike munisipaliteite om die krisis te erken en daadwerklike stappe te doen om oplossings te vind en verligting te bring.”

Coetzee sê die ligte reën wat af en toe die afgelope maande geval het, is ver van voldoende af vir die landbou. “Al wat sal help is as daar meer as 100 mm reën in die berge val sodat die riviere kan begin vloei.”

Daar word nou gewag op terugvoering van die munisipaliteite.

Macpherson het gister aan Die Hoorn gesê hy en die burgemeesters van die Tuinroete Distrik en van die twee ander munisipaliteite sal nou saam-kom om ’n gesamentlike versoek te formuleer wat na die betrokke ministers en hul departemente ge-stuur sal word. (Deur Marita Meyer)