COVID-19-GEVALLE het die afgelope week erg in die Tuinroete geklim.
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Departement Gesondheid in die Tuinroete, was daar teen Dinsdag ’n 95 %-toename in Covid-19-gevalle in die voorafgaande sewe dae wanneer dit met sewe tot 14 dae vroeër vergelyk word.
Daar was 2 311 nuwe gevalle oor die laaste sewe dae met groot persentasie-toenames in al die munisipale distrikte.
Sy sê daar was ook ’n toename in toelatings in die meeste staatshospitale, veral by die Mosselbaai Hospitaal. “Die George Hospitaal laat op ’n voortdurende basis baie Covid-19-pasiënte toe. Daar is tans 44 Covid-19-pasiënte waarvan 15 in hoësorg is. Al die subdistrikte verminder tans hul nie-noodsaaklike dienste om die toename in primêre gesondheidsfasiliteite en hospitale te kan hanteer.”
Ferreira sê ten spyte van die toename in mense wat in hospitale opgeneem word, is daar steeds beddens vir Covid-19-pasiënte beskikbaar.
Dinsdag was daar 76 Covid-19-pasiënte in hospitale in die Tuinroete-distrik.
Ook by die Mediclinic George en Geneva gaan dit tans baie druk met die aantal positiewe pasiënte wat steeds styg.
Volgens Kassie Karstens, algemene hospitaalbestuurder, is alle prosedures wat nie noodsaaklik is nie, tydelik gestaak en hou hulle die huidige situasie tans fyn dop.
Goeie nuus op Oudtshoorn is dat die derde golf nog nie die Mediclinic Klein Karoo op die dorp getref het nie. Volgens Hannes Stegmann, bestuurder van dié hospitaal, was daar teen Dinsdag slegs ses Covid-positiewe pasiënte in die hospitaal en die hospitaal se besetting sowat 60%.
“Met die groot toename in Mosselbaai, het ons die naweek ’n pasiënt van die Life Bayview Hospitaal ontvang en is ons ook gereed om pasiënte van George te help, indien nodig,” sê Stegmann.
IOL het gister berig dat daar ook ’n toename is in positiewe Covid-19-gevalle by die Infanterieskool op Oudtshoorn.
• Die aantal aktiewe gevalle in die onderskeie munisipaliteite in die Tuinroete-distrik was Woensdag: Oudtshoorn (272), Kannaland (87), George (1 605), Mosselbaai (1 229), Knysna (352), Bitou (109) en Hessequa (221). (Deur Liesel le Roux)
95%-toename binne week in Covid-gevalle
50-plussers is sedert Maandag saam met die 60-plussers ingeënt met verskeie inwoners van die streek wat op Facebook hul inentingservaring gedeel en inentingslokale vir die vriendelike en flinke diens gekomplimenteer het. Hier wag van die inwoners by die Toekomsrus Gemeenskapsaal Maandag (5 Julie) in Oudtshoorn op hul inspuitings. Foto: Stefan Skapie Goosen