Covid-19 eis Kannaland se geliefde Mercy

Die Kannaland Munisipaliteit se geliefde Marchelene “Mercy” Botha in die wit hemp (middel) hier saam met van haar vrien­dinne op haar ver­jaarsdag. Foto verskaf

“MY bors moet nie so klink nie. Bid vir my, julle, dat ek net gesond kan word. Covid is nie speletjies nie. Ek raai nie eens my vyand aan om so te voel nie. Pas julle op.”

Dié stemboodskap het Marchelene “Mercy” Botha (32), geliefde werknemer van die Kannaland Munisipaliteit, aan haar vriende gestuur kort voordat sy haar stryd teen Covid-19 verloor het.

Botha het verlede Woensdag (30 Junie) gesterf nadat sy die voorafgaande Maandag positief vir die virus getoets het.
In die roerende laaste stemboodskap aan haar vriende sê Botha onder meer: “Een oomblik is ek reg, die ander oomblik is ek weer siek.”

Botha was in isolasie by haar woning in Nissenville, Ladismith waar die Kannaland-nood­dienste haar gaan haal het.

Sy het egter haar stryd teen die virus verloor voordat sy by die plaaslike hospitaal kon aankom.
K
ollegas van Botha vertel sy was ’n opgewekte mens met ’n sprankelende persoonlikheid.

Volgens Emelia Meyer, een van Botha se kollegas, het Mercy se teenwoordigheid enige somber oomblik in die kantoor in ’n ligter oomblik verander.

“Haar opgewektheid was aansteeklik vir die personeel,” sê Meyer.

Sanet du Toit, ’n plaaslike fotograaf, het Botha so op Facebook onthou: “Jy met jou sprankelende persoonlikheid… jou lus vir die lewe, jou vriendelike glimlag…

Ons fotosessie was ’n groot plesier.”

Begrafnisreëlings vir Botha was teen druktyd nog nie bekend nie. (Deur Deon Meyer)