Boplaas se port weer bobaas!

BOPLAAS FAMILIE-WINGERDE in Calitzdorp se Cape Vintage Reserve Port 2017 het koning gekraai by die onlangse Old Mutual Trophy Wine Show (OMTWS) en is aangewys as die beste port in Suid-Afrika!

Dié wynskou, wat vanjaar op 30 Junie gehou is en ook sy 20ste bestaansjaar gevier het, is bekend daarvoor dat die beoordeelaars min medaljes uitdeel, en uit vanjaar se 673 wyne wat ingeskryf het, het slegs 32 goue medaljes verower.

Boplaas se port was onder slegs 16 deelnemers wat trofees ontvang het.

“Ons is verheug oor hierdie goeie nuus,” sê Carel Nel, eie-naar en keldermeester van Boplaas.

“Die pandemie was verwoestend vir baie bedrywe, waaronder ons s’n, en die Calitzdorp-streek, wat ons tuiste is, is nog steeds in die greep van ’n langdurige droogte.

“Die erkenning vir ons port en die lig wat dit werp op die harde werk van baie mense oor ge­slagte heen wat betrokke was by die maak daarvan, is baie welkom.”

Boplaas se Cape Vintage Reserve Port 2017 het vanjaar 96 uit 100 punte by die OMTWS behaal.

Dit is dieselfde port wat in 2017 as Suid-Afrika se kampioenport by die SA Jongwynskou aangewys is.

Dit is ook as Port van die Jaar aangewys met ’n vyfstertelling in die Platter’s Suid-Afrikaanse wyngids.