MET die aantal positiewe Covid-19-gevalle in die Groter Oudtshoorn wat nou daagliks styg, moes vier sakeondernemings reeds tydelik hul deure sluit weens kontak met die virus. ’n Oop vertrek by die hek na die Dysselsdorp Polisiekantoor moes ook tydelik sluit terwyl die Oudtshoorn Polisieakademie tot Maandag gesluit is nadat ’n personeellid positief getoets is vir Covid-19 en van die geboue ontsmet moet word.
Altesame 45 mense in die Groter Oudtshoorn het teen gister (Woensdag, 24 Junie) positief getoets vir Covid-19, teenoor verlede Woensdag se 29.
Negentien mense het al herstel.
Dinsdag (23 Junie) moes Mr Price Home sy deure tydelik sluit ná kontak met ’n positiewe geval. ’n Kennisgewing het aangedui dat dit tans behoorlik ontsmet word en weer so gou as moontlik sal oopmaak. Pogings om met die hoofkantoor kontak te maak, was vrugteloos.
Volgens kapt Joey Strydom, polisiebevelvoerder van die Dysselsdorp Polisie, was dit gelukkig nie nodig om die polisiekantoor te sluit nie omdat slegs ’n oop vertrek by die hek geraak is deur kontak met ’n Covid-19-geval.
Volgens brig Novela Potelwa is Dysselsdorp en Uniondale se polisiekantore asook Oudtshoorn se Kriminele Rekordsentrum Woensdag ontsmet nadat bevestiging ontvang is dat lede van die polisie positief getoets is vir Covid-19 of in kontak was met mense wat onlangs positief getoets het.
In Dysselsdorp is dienste nie beïnvloed nie aangesien slegs ’n besoeker positief getoets is en geen lede nie. Drie lede was egter in aanraking met die besoeker en is tans in self-isolasie.
In Uniondale is die polisie tydelik verskuif na die speurdiensgebou terwyl die Kriminele Rekordsentrum op Oudtshoorn net voorkomend gesluit is. Dienste word weer vandag gelewer.
Dit is duidelik dat die koronavirus nou sy loop ook op Oudtshoorn begin neem. Met besoeke aan verskeie winkels op Oudtshoorn is dit egter duidelik dat daar winkeleienaars is wat nie die pandemie ernstig opneem nie deurdat hulle nie die inperkingsregulasies nakom nie, veral wat betref die dra van gesigsmaskers.
Navorsing toon dat gesigmaskers, as dit korrek gebruik word, mense help om mekaar teen die virus te beskerm en om verspreiding te bekamp.
Mr Price Home se tydelike sluiting volg op die hakke van Capitec Bank in Hoogstraat wat verlede Woensdag (17 Junie) sy deure tydelik moes sluit. ’n Kennisgewing op die vensters het kliënte verseker alle voorsorgmaatreëls word getref om almal te beveilig. Pogings om kommentaar van Capitec se hoofkantoor te verkry was ook onsuksesvol. Die bank se deure is van die begin van die week af weer oop.
In die eerste week van Junie het twee ander besighede, Cell C en Gadget World – albei in die Queen’s Mall, ook tydelik hul deure gesluit weens beweerde kontak met positiewe Covid-19-gevalle.
Die waarnemende burgemeester van Oudtshoorn, Noluthando Mwati, het gister ’n beroep op die gemeenskap gedoen om regulasies en protokol te gehoorsaam en so te help om die verspreiding van Covid-19 te voorkom.
“My pleidooi is dat inwoners beweging waar moontlik moet vermy. Gaan slegs uit as dit absoluut noodsaaklik is. Beskerm jouself deur protokol en veiligheidsmaatreëls te gehoorsaam,” het sy beklemtoon.
• Suid-Afrika se aantal bevestigde Covid-19-gevalle het vroeër vandeesweek deur die 100 000-merk gebreek en teen Woensdagaand (24 Junie) het die land se aantal bevestigde gevalle op 111 796 gestaan. 56 874 Suid-Afrikaners het al herstel terwyl 2 205 gesterf het. Tussen 4 000 en 6 000 nuwe gevalle word tans daagliks aangeteken.
Suid-Afrika het reeds lande soos China (84640) en Kanada (103688) verbygesteek en is nou die land met die 18de meeste gevalle ter wêreld. Die aantal gevalle in Suid-Afrika verdubbel tans sowat elke 13de dag.
Die Wes-Kaap sal na verwagting die piek van sy kurwe tussen einde Junie en Julie bereik. In Kannaland is daar steeds drie bevestigde gevalle met drie mense wat herstel het.
• Gemeenskapsifting en -toetsing gaan intussen voort in die Groter Oudtshoorn. Verlede week was Bongolethu aan die beurt en vandeesweek is dit Toekomsrus se beurt.
(Bronne vir statistiek oor Nasionale Departement Gesondheid, Dashboard – John Hopkins University, Ridhwaan Suliman en statistikus op Twitter.) (Deur Liesel le Roux)