Oudtshoorn geskok oor vonnis

Die BMW-motor wat deur Sidney Berry bestuur is en waarin Marilize Nortier gesterf het.

Die saak teen Sidney Berry (26) van Grootbrak, wat Donderdag in die Oudtshoorn Streekhof gevonnis is, het baie besprekings en opinies nie net in Oudtshoorn se gemeenskap nie, maar regoor Suid-Afrika die week ontlok.

Baie kommentare op sosiale media het gevoel dat Berry met moord wegkom.

Vir sommige was die vonnis wat die 26-jarige Berry ontvang het na hulle mening te lig, en is daar tot planne vir ’n protes voor die hof en die opstel van ’n petisie, wat deur Oudtshoorn Raadslid en gemeenskapsleier, Leon Campher gedryf word.

In die Eerste plek is dit belangrik om te onderskei tussen die volgende twee klagtes, moord en manslag. In Suid-Afrika word moord op die webtuiste www.saps.gov.za as die volgende geklassifiseer:

Moord is die onwettige en opsetlike dood maak van ’n mens of persoon met of sonder voorbedagte rade.

Strafbare manslag is die onwettige nalatigheid wat lei tot die dood van ’n ander mens.

Dit is dus belangrik om te verstaan dat Berry nie op die aanklag van moord aangekla of skuldig bevind is nie, omdat die ongeluk waarin Marilize Nortier op 22 September 2019, op die R328 Buffelsdriftpad buite Oudtshoorn gesterf het, ’n ongeluk was. Daar is ook geen bewyse voor die hof gebring dat Berry Nortier gedreig het of met opset haar dood veroorsaak het nie.

Die Hoorn het die landdros, Vaughn Shone wat die saak al vir meer as 3 jaar reeds aanhoor se vonnisopleggingdokument, wat uit 36 bladsye bestaan gekry, en hier volg die opsomming oor die vonnis.

Berry is direkte tronkstraf opgelê van twee jaar, maar dit is vir vyf jaar opgeskort. Dit beteken dat Berry vir die volgende vyf jaar hom nie skuldig mag maak aan enige misdade nie, anders sal die tronkstraf in werking tree.

Hy is ook drie jaar korrektiewe toesig opgelê, wat beteken hy is onder huisarres.

Hy mag vir die volgende drie jaar slegs by sy ouers se huis bly, en Maandae tot Vrydae van 08:00 tot 19:00, Saterdag van 08:00 – 14:00 en Sondae van 08:00 – 13:00 vanaf die perseel beweeg.

Vir die volgende drie jaar moet Berry ook maandeliks 16 uur gemeenskapsdiens verrig, wat beteken hy moet 576 ure gemeenskapsdiens in die volgende drie jaar voltooi.

Hy moet ook deelneem aan programme waar hy behandeling sal ontvang en aan ondersteunings- projekte deelneem vir drie jaar.

Hy mag slegs in Mosselbaai en George se magistraatsarea beweeg, en sal slegs per goedgekeurde aansoek die area mag verlaat indien nodig.

Hy mag ook geen alkohol of dwelms gebruik vir die volgende drie jaar nie.

Hy mag ook by geen kriminele aktiwiteite betrokke raak nie.

In Shone se vonnisoplegging haal hy die gedeelte aan van Hogarth, Sentencing as a Human Progress (1971) in regarding to sentencing: “There is no decision in the criminal process that is so complicated and so difficult to make as that of the sentencing judge,”

Shone haal ook sowat 20 soortgelyke sake in sy uitspraak aan waar persone wat by motorongelukke betrokke was, en ook van strafbare manslag aangekla was, die voorval en wat die vonnis van daardie persone deur verskeie howe in Suid-Afrika was.

Hy moes ook die kans dat die aangeklaagde appèl kan aanteken teen enige vonnis wat opgelê word in ag neem, en haal verdere sake aan waar die hooggeregshof verskeie vonnisse omgekeer het waar persone direkte tronkstraf ontvang het vir strafbare manslag, wat ook die moontlikheid in hierdie saak sou wees, sou Berry direkte tronkstraf ontvang het.

In een gedeelte van Shone se uitspraak maak hy melding dat korrektiewe toesig op verskillende maniere beskryf word as “’n billike vonnis en selfs gepas vir ernstige misdade.” Dit is nie ‘n sagte opsie nie maar ’n geskikte en effektiewe straf, en word beskou as ’n hoë strafwaarde. Daar is ook gesê dat dit meer onderdrukkend kan wees as ‘n korttermyn gevangenisstraf.

Daar is ook bevind dat Berry ’n eerste oortreder is, en daar word in verskeie verslae genoem dat hy berou toon vir die dood van die oorledene, en graag vir die familie wil onverskoning vra.

Daar was egter geen bewyse voor die hof gebring dat die beskuldigde dronk was en dit die ongeluk veroorsaak het nie, ook nie dat die beskuldigde die motor teen ’n hoë spoed of roekeloos bestuur het nie.

Hy noem ook verder dat dit verstaanbaar is dat die familie van die oorledene sukkel om die beskuldigde te vergewe vir sy optrede en het versoek dat ‘n tydperk van gevangenisstraf as ‘n gepaste vonnis oorweeg moet word.

’n Goeie vergelyking is die onlangse saak waar ’n fietsryer deur ’n jong man doodgery is, en hy ook ’n vonnis van huisarres opgelê is nadat AfriForum ingryp het. Lees meer daaroor op Netwerk 24.

Garnett Wicomb berig vanuit die hof:
“VONNISOPLEGGING is altyd die moeilikste taak vir landdroste en daar sal altyd mense wees wat ongelukkig is daaroor. En meer so in hierdie saak.”

So het landdros Vaughn Shone verlede Donderdag in die Oudtshoorn landdroshof gesê met die aanvang van vonnisoplegging van die be- stuurder van die BMW-motor waarin Marilize Nortier (18), ’n matrikulant, die oggend van 22 September 2019 in ’n watersloot langs die Kango Grotte-pad verdrink het.

Die 26-jarige Sidney Berry kon tydens sy vonnisoplegging sy trane in die beskuldigdebank nie keer nie.
Berry is aan strafbare manslag skuldig bevind omdat hy nalatig bestuur en die ongeluk veroorsaak het wat tot die dood van Nortier gelei het. Hy is egter onskuldig bevind op die alternatiewe klagtes van roekelose bestuur en versuim om by ’n ongelukstoneel hulp te verleen. Die staat het toegegee dat daar ’n gebrek aan getuienis was.

Die ongeluk het die betrokke oggend omstreeks 03:00 plaasgevind nadat die beskuldigde en die oorledene die vorige aand saam by die Braaikraal gekuier het en op die Kango-Grotte pad gery het nadat Berry drie van sy vriende by hul huis afgelaai het.

Hy het getuig dat hy nie weet wat die ongeluk veroorsaak het nie. Hy het sy bewussyn verloor en toe hy dit herwin het hy nie geweet dat daar nog ’n persoon in die kar was nie. Gevolglik het hy die ongelukstoneel verlaat en eers met sy terugkeer van sers. Heine Jullies verneem van Nortier se dood. Die man wat Berry langs die pad opgelaai het, Leon Botha, het getuig dat die stank van drank so erg was dat hy die vensters moes afdraai maar Berry is nie van dronkbestuur aangekla nie.

Die staatsaanklaer, Jacolize Jordaan het die hof gevra vir direkte gevangenisstraf omdat dit die enigste gepaste vonnis is vir die misdryf waaraan Berry skuldig bevind is. “Die hof moet ’n duidelike boodskap uitstuur. Drink en bestuur het ’n nasionale sport in Suid Afrika geword,” het Jordaan gesê.

Sy het twee impakverslae van Marilize se ouers, Morné en Suné Nortier, aan die hof voorgelê
Morné Nortier het die hofverrigtinge bygewoon maar is onmiddellik daarna weg sonder om met die media te praat.

Volgens Nortier het hy ná sy dogter se dood ’n bitter persoon geword en hoop Berry “kry wat hy verdien”.

“Die beskuldigde het my kind se lewe gesteel.”

Selfs Marilize se oupa en ouma kan volgens Nortier nie haar dood verwerk nie.

Nortier se moeder, wat deesdae in Kanada woon, skryf in haar verslag dat sy dit moeilik vind om haar omstandighede te beskryf. Die ongeluk speel nog gereeld soos ’n rolprent in haar geheue af. Sy kan haar nie indink wat haar kind moes deurgemaak het nie. Haar hele famille is deur die tragedie geraak en haar seun vind dit ook baie moeilik om sy suster se dood te verwerk.

Sy het haar enigste dogter en beste vriendin verloor terwyl Berry kan voortgaan met sy lewe.

“Ek het agtien jaar van my lewe verloor. Die beskuldigde het ons nie om verskoning gevra en toon geen berou nie.”

“Ek hoop hy word opgesluit en nooit weer vrygelaat nie. Hy gaan voort om te drink en bestuur maar ek weet dit wat ek vra sal nie gebeur nie.”

Jené Snyman (21) het buite die hof gesê Marilize was haar beste vriendin en dat haar dood almal “hard geslaan het.” Dit is al byna vier jaar en word nie makliker nie.

Berry se regsverteenwoordiger, Bulelani Bans, het die hof vir ’n algehele opgeskorte vonnis gevra sodat hy buite die tronk kan rehabiliteer. Hy het ook die hof versoek om nie sy bestuurslisensie in te trek nie omdat hy dit as programmatuur- ingenieur nodig het.

Hy word dikwels na-ure uitgeroep en veral nou met beurtkrag. Oor berou het hy aangevoer dat Berry as gevolg van sy borgtogvoorwaardes nie met die oorledene se familie kontak kon maak nie maar dat sy familie wel medelye met die Nortierfamilie betuig het.

Die landdros het bevind dat ’n opgeskorte vonnis en direkte gevangenisstraf nie gepaste vonnisse sal wees nie.