Liggaam van De Villiers by sy blyplek gevind

Lourens de Villiers. Foto verskaf

DIE Calitzdorp Polisie ondersoek ’n saak van moord nadat die liggaam van die bestuurder van die Visarend-eko­kamp by die Calitzdorpdam, Lou­rens de Villiers, Dinsdag by sy blyplek by die dam gevind is.
De Villiers, wat alleen daar ge­woon het en na verneem word in sy 60’s was, is deur die polisie gevind nadat hulle hom gaan soek het.

Volgens kapt Ian Meyer, stasie­bevelvoerder van die Calitzdorp Polisie, het ’n bekommerde suster van De Villiers hulle Dinsdag gebel en gesê hulle is bekommerd oor hom nadat hulle lanklaas van hom gehoor het.

De Villiers bakkie was egter nie by die dam nie en is na ’n soektog in Matjiesvlei gevind.

Meyer het gister gesê die ondersoek is reeds in ’n gevorderde stadium. “Ons kan egter nie tans sê of die bakkie gesteel was of nie.”

Die Calitzdorp Polisie het Dinsdag inwoners gevra om na vore te kom met enige inligting wat hulle kan help in hul ondersoek, veral oor mense wat onlangs daar werksaam was en ook waar sy bakkie sedert Saterdag (10 April) gesien is asook wie dit bestuur het.

De Villiers was volgens onbevestigde inligting vasgebind toe hy gevind is. Daar is ook bespiegelinge dat hy reeds ’n paar dae voordat hy gevind is, vermoor is.

Intussen is huise glo gevind vir sy drie honde, Bella, Lady asook ’n bejaarde en half blinde hond, Gigi. (Deur Liesel le Roux)