Statebondspele: Goud vir Sarah-Jane!

Sarah-Jane Lewis. Foto verskaf

SARAH-JANE LEWIS, ’n graad 10-leerder aan die Oudtshoorn Hoërskool, het begin September aan die Statebondspele in Birmingham, Engeland gaan deelneem as lid van Suid-Afrika se Protea-karatespan, en op 7 September die goue medalje in haar gewigs­klas verower!

Sy het boonop as lid van die Protea-kadetspan op 11 September ’n silwer medalje ingepalm!
Sarah-Jane, ’n lid van Oudtshoorn se Jikkai-do-ka­rateklub, is tans nasionaal die tweede gekeurde kadet onder 47 kg. Op 7 September het sy egter in die Elite Kampioenskap al haar opponente van Engeland, Ciprus en Indië – almal in die top 10 in hul lande – uitgestof en goud verower!

Haar ma, Cornelia Blauw, sê sy is vreeslik trots op Sarah-Jane en spog oral met haar kind se pres­tasie. “Die belangrikste hiervan is dat dit haar selfbeeld bou, en sy besef sy is meer as net ’n meisie wat in die lokasie bly.”

Die trotse moeder sê al kyk kinders van die ge­meenskap dalk nou op na Sarah-Jane, sy self nie ’n “groot kop” as gevolg van haar prestasie gekry het nie. “Sy bewys dat as sy bo haar omstandighede kan uitstyg, ander dit ook kan doen! Sy kan nou ook nog meer as voorheen met trots sê sy is ’n Struisie!”

Al wat Blauw wens, is dat daar meer finansiële steun vir sportsterre soos haar dogter was. “Al kry sy nie geld hiervoor nie, is die eer vir haar genoeg! Dit sou lekker wees as die nasionale regering haar bietjie kon ondersteun, veral vir haar toekoms. Al die kompetisies is duur om by te woon, maar Sarah-Jane bewys met haar harde werk sy kan enige iets doen!”

Sarah-Jane keer op 25 September terug Oudts­hoorn toe, met haar skool wat ’n spesiale terugverwelkoming vir haar op 27 September beplan. (Deur Stefan Skapie Goosen)