Inwoners bo 60 sit gister op Oudtshoorn en wag vir hul Covid-19-inspuitings. Voor is Helen Human, die Departement Gesondheid se adjunk-direkteur verpleging in die Oudtshoorn-subdistrik. Foto: Schalk le Roux
DIE tweede fase van inenting in Suid-Afrika, die inenting van mense bo 60, het Dinsdag en Woensdag op Oudtshoorn afgeskop. Dinsdag (1 Junie) is begin met die inenting van inwoners wat in ouetehuise woon, terwyl ander inwoners bo 60 wat ’n tweede sms na hul registrasie ontvang het, sedert Woensdag ook op die terrein van die Oudtshoorn Hospitaal ingespuit word.
Dinsdag het inwoners van Coronation Memorial en Millenniumpark heel eerste aan die beurt gekom.
Die eerste Oudtshoorniet bo 60 wat sy inenting ontvang het, was Gawie Tarentaal van Coronation Memorial wat deur suster Matilda Swiegelaar ingespuit is. Inwoners van ander ouetehuise het sedert Woensdag aan die beurt gekom.
’n Inentingsperseel vir inwoners bo 60 wat nie in ouetehuise woon nie, is volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Departement Gesondheid in die Tuinroete Distrik, gister (2 Junie) by die Oudtshoorn Hospitaal geopen en sal ook vandag en môre (3 en 4 Junie) oop wees.
“Dit beteken dat ’n aantal mense wat vir die inenting geregistreer het, ’n tweede sms sal ontvang om hul afspraak vir die inenting te bevestig.”
Ferreira sê mense wat sonder ’n afspraak (’n tweede sms na registrasie) by ’n inentingsperseel opdaag, sal moet wag aangesien diegene wat sms’e ontvang het, geprioritiseer sal word. Die moontlikheid dat iemand sonder ’n afspraak ingeënt sal word, sal afhang van die beskikbaarheid van entstof. Sy het mense versoek om geduldig te wees.
“Ons gaan poog om oor die volgende paar weke almal wat geregistreer het, in te ent. Wees asseblief geduldig.”
Inentings in landelike gebiede, soos Oudtshoorn en Kannaland, kom telkens later as stedelike gebiede aan die beurt.
Volgens Ferreira bepaal die aantal dosisse entstof wat van die nasionale Departement Gesondheid ontvang word, hoe en waar en wanneer inentingspersele geopen kan word. (Deur Liesel le Roux)
