Blinde en siggestremde fietsryers maak geskiedenis in Oudtshoorn

Foto’s: Sharon van Straaten

’n Baanbrekende oomblik in Suid-Afrikaanse sportgeskiedenis het hierdie week in Oudtshoorn plaasgevind.

Vir die eerste keer het blinde en siggestremde fietsryers deelgeneem aan die SA Jeug Padfietskampioenskappe, wat van Dinsdag tot Donderdag (7 tot 9 Oktober) plaasgevind het.

Die inspirasie kom van Corné Bence, president van Eden Fietsry en voorsitter van die Wes-Kaap Fietsry-assosiasie.

Bence het die droom van jong blinde en siggestremde fietsryers raakgesien wat nog nooit tevore die geleentheid gehad het om op nasionale vlak deel te neem nie. Met die ondersteuning van Johan Bekker van Parra-Cycling is die deurbraak moontlik gemaak.

Die pad na hierdie mylpaal het in 2023 ontstaan toe die 13-jarige Sebastian Bekker Ride de Friends, ’n fietsryklub vir kinders met sigge-stremdheid, gestig het.

Deur gebruik te maak van tandemfietse, met ’n siende loods voor en die siggestremde ryer agter, het die klub die wêreld van fietsry oopgestel vir dié wat eens gedink het dit is onmoontlik.

“Wat begin het as ’n klein daad van goedhartigheid, het gegroei tot ’n kragtige beweging van insluiting, moed en vriendskap,” sê Bence. “Elke rit saam met Ride de Friends word moontlik gemaak deur toegewyde fietsry-entoesiaste en vrywilligers wat met passie en sorg help om die fietse te onderhou, die ryers afrig en elke byeenkoms te ondersteun.”

Danksy Bence se toewyding en visie kan Suid-Afrikaanse siggestremde kinders nou uitsien na ’n toekoms waar deelname aan internasionale fietsrykompetisies binne hul bereik is.

Die uitvoerende burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Johan Allers, het Bence en die fietsryers geprys vir hul inspirasie en beklemtoon dat ware kampioene nie net aan medaljes gemeet word nie, maar aan die moed om drome te leef en grense te verskuif.