Klein Karoo Saad gala-aand: Geduld, deursettingsvermoë en vasberadenheid resep vir sukses

Bo: David Malan, besturende direkteur van Klein Karoo Saad. Onder: Volstruise en hul vere het gaste by die ingang gegroet tesame met Boplaas se sjampanje.

“45 Jaar van professionele saadproduksie gebou op 80 jaar se deursettingsvermoë, geduld en vasberadenheid”

Op 5 April 1945 het ’n groepie boere uit die Klein Karoo by die Koffiehuis op Oudtshoorn bymekaar gekom om ondersoek in te stel na die stigting van ’n Landbou Köoperasie.

Op 25 Mei 1945 is die Koöperasie gestig met 466 lede en die nuut gestigde Koöperasie is op 13 Augustus geregistreer as Klein Karoo Landbou Koöperasie (KKLK).

Lusernhooi, lusernsaad, bone, koring en erte, was van die belangrikste produkte wat die nuut- gestigde Koöperasie, namens hulle lede moes bemark.

Vanjaar is ons baie trots om die 80 jarige herdenking van ons besigheid te vier. Die besigheid het gedurende dié tyd verskeie betekenisvolle ver-andering ondergaan maar dit was ook die ontstaan van Klein Karoo Saad, soos ons dit tans ken.

Terwyl die produksie en bemarking van kern- produkte soos lusernsaad, lusernhooi en heuning voortgeduur het, is KKLK ook in 1958 aangestel om die eenkanaal bemarking van volstruise te administreer.

Dit het ’n betekenisvolle rigtingverandering teweeggebring in die besigheid se ontwikkeling.
Op 15 Augustus 1980 het die Direksie besluit om toe te tree tot die produksie van hoë kwaliteit groentesaad in die streek.

Die eerste wortelsaadproduksie vir kontrakte uit Japan, is vroeg in die volgende jaar gesaai.
In 1989 is die bestaande lusernsaad-skoonmaak- lyn, die eerste maal opgegradeer om te voldoen aan die vereistes van groentesaad in die internasionale mark.

Ten spyte van verskillende terugslae het die direksie bly glo in die potensiaal van saadproduksie in die Klein Karoo. Mnr Hannes Louw, hoofbestuurder van KKLK van 1964 -1991, het die eerste groot invoere van lusernsaad gefasiliteer toe ’n bemarkingsooreenkoms aangegaan is met WL Research van die VSA.

In 1995 het die direksie besluit dat bemarking en produksie van groentesaad van strategiese belang is en om die saad afdeling te groei as ’n fokus in die groep.

Die saadskoonmaakafdeling is in 1996 weer opgegradeer en ’n kwaliteitkontrolelaboratorium is reeds in 1990 gestig.

Op daardie stadium was die omset van die besigheid ’n baie beskeie R3,8 m en in die betrokke jaar is R2 m se lusernsaad afgeskryf. Die afdeling was tegnies insolvent.

Die res is geskiedenis en het ons daarin geslaag om, jaar op jaar, die saadbesigheid verder te groei deur groter en meer kontrakte teen beter pryse te beding met kliente van regoor die wêreld.

Die plaaslike sukses van saadproduksie het hand oor hand toegeneem met gefokusde personeel in saadproduksie, saadskoonmaak, kwaliteitskontrole en verskeping.

Dit het die vertroue onder die kliente dramaties laat toeneem en verdere groei moontlik gemaak.

Ons is nederig trots daarop dat ons daarin kon slaag om Klein Karoo Saad, Klein Karoo Saad Produksie en ons nuwe maatskappy, Agrofors kon laat groei sodat ons vanjaar, in ons tagtigste bestaansjaar, ’n omset van meer as R1 000 000 000 kon behaal.

Dit was ’n droom en ’n teiken vir baie jare.

Ons wil weer die geleentheid gebruik om ons produsente te bedank vir hulle harde werk en toewyding.

Ten laaste wil ek die personeel ook bedank vir die ongelooflike funksie wat hulle vanjaar vir ons produsente aangebied het. (DAVID MALAN)

KKS se saadstoor by Besemkop, Calitzdorp is in ’n pragtige elegante lokaal omskep vir hul glansfunksie, wat op Woensdag 1 Oktober 2025 plaasgevind het. Die kategoriewenners vir 2025 is ook die aand aangekondig.

KKS bederf boere en eregaste met glansfunksie

VANJAAR se KKS Gala-aand is in hul stoor, op Besemkop, in Calitzdorp aangebied.
Elandré het sowat 440 gaste vermaak met bekende liedjies en sy kenmerkende diep stem, waarna die toekennings gevolg het. Gaste was swierig opgetof in elegante drag. Kerse met sagte beligting het vir ’n stylvolle atmosfeer gesorg.

Ligte reën het op die dak geval, soos seën uit die hemel. Elke gas is bederf met ’n spesiale geskenksakkie.
KKS se personeel het die aand as kelners, kombuis personeel en kroegmanne gewerk. Elke lid van die span is ingespan om die aand te help en gaste te bedien. Die personeel het gaste op hul hande gedra en geen versoek was te groot of klein nie.

Die 2026 Kalender met bestuiwers as onderwerp, is saam met hul eie koerant (KKS Gazette) uitgegee, wat beskikbaar was vir gaste na die tyd.

In die Gazette is ’n terugblik oor die maatskappy die afgelope 80 en 45 jaar, inligting oor elke filiaal van KKS, gelukwense van boere, interessante artikels oor hul weerstasie op Besemkop, asook lekker resepte met heuning. Pieter Geldenhuys het Woensdagaand as gasspreker opgetree en insig gedeel oor hoe KI (Kunsmatige Intelligensie) die toekoms kan vorm. Geldenhuys is ’n direkteur van The Institute of Technology, Strategy and Innovation. Hy het sy praatjie afgeskop met ’n aanhaling van William Gibson, “Die toekoms het alreeds gebeur, dis net oneweredig versprei”.

Na afloop van sy praatjie is aandete bedien. Daarna is vanjaar se wenners en naaswenners van elke kategorie, asook spesiale toekennings aangekondig. Die wenners van hul jaarlikse foto kompetisie is ook aangekondig, en die mooiste bye foto’s is op die grootskerm vertoon. Die aand is afgesluit met heerlike port en nagereg. (ANGELIQUE ERASMUS)

“Die toekoms het alreeds gebeur, dis net oneweredig versprei” William Gibson.

Elandré het die aand geopen en treffers soos Bruce Springsteen se Tougher Than the Rest gesing.

Oudtshoorn se Jaco Kriek en sy saksofoon het gaste met hul aankoms gegroet.