Hier word grond gesoek vir Dwellers

DIE Oudtshoorn Munisipaliteit ondersoek tans grond waar die Backyard Dwellers of Hope grond gegee kan word en waar hulle hul strukture kan oprig.
Die groep het teen Dinsdag reeds 37 strukture op ’n stuk grond tussen Voortrekkerweg (die N12) en die Oudtshoorn Gholfbaan opgerig en dit na Hopeville herdoop.
Onder die eiendom waarna gekyk word, is by die Honde-eenheid naby Oewersig, by die driehoek net buite Oudtshoorn waar die Calitzdorp- en Mossebaaipad bymekaarkom, Karoovalley Farms, Soekkop, Zeelandsnek, oos en wes van die lughawe, by Hoërskool Môrester of Aurial Kollege en langs die gholfbaan.
Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, sê die stuk grond wat tans deur Dwellers beset word, is nie ide-aal vir die vestiging van ’n uitbrei­ding nie, en dat daar ’n aantal risiko- faktore is soos die N12 met sy groot verkeersdruk wat daar verbyloop.
“Dié probleem van beskikbare grond is nie net tot Oudtshoorn beperk is nie, en geld regoor die hele land.”
Ntobeko sê die munisipaliteit is in gesprek met die Dwellers.
Die munisipale waglys vir huise dateer uit 1967 en het ’n aantal jare gelede sowat 18 500 name bevat.
Die waglys staan nou op 11 500 name.
Van die Backyard Dwellers is sowat 200 name op die waglys, maar volgens Mangqwengqwe word beraam dat sowat 8 400 mense in agterplase woon.
Sowat 4 200 gesinne woon in informele huise in agterplase.
“Sommige van die mense van die Dwellers-groep wag al twintig jaar op ’n huis,” sê Mangqwengqwe.
“Dit is ’n aanduiding van hoe groot die probleem is en die erns van die uitdaging wat die munisipaliteit in die gesig staar.”
“Om die strukture te kan bou is nie ’n eenvoudige taak nie. Die noodsaaklikste voorvereiste is vir die munisipaliteit om water en sanitasie­- dienste aan die inwoners te kan verskaf,” sê hy.
Volgens Zyna Mduma, voorsitter van die Backyard Dwellers of Hope, het hul Maandag ’n raadsvergadering bygewoon waar die hele aangeleentheid bespreek is, maar is daar steeds nie ’n oplossing vir hul probleem gevind is nie.
“Ons moet nou vir twee weke wag, om te hoor oor ’n stuk grond wat moontlik beskikbaar is by die Honde-eenheid.
“Ons gaan beslis die laaste raadsvergadering op 18 Desember bywoon,” het sy gesê. (Deur Angelique Erasmus)

Be the first to comment on "Hier word grond gesoek vir Dwellers"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*