DIE Groter Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson, en waarnemende munisipale bestuurder, Reginald Smit, het verlede week die lokaal by die Oudtshoorn Hospitaal besoek wat ingerig is vir Covid-19-inenting.
Gesondheidswerkers uit die Groter Oudtshoorn en Kannaland ontvang sedert verlede week hul inentings daar in die eerste fase van inenting in Suid-Afrika, terwyl mense bo 60 in fase 2 ook daar ingeënt sal word. Die tweede fase skop op 17 Mei af.
Die lokaal by die hospitaal is tans die enigste voorbereide fasiliteit vir inenting in die Groter Oudtshoorn.
Die Toekomsrus Gemeenskapsaal word egter tans ook voorberei as ’n inentingsperseel.
Mense bo 60 kan self vir die inenting registreer by https://vaccine.enroll.health.gov.za.
Die Oudtshoorn Munisipaliteit het ook sy biblioteke, behalwe vir die Bridgton Biblioteek, beskikbaar gestel om hulp te verleen met registrasie.
Die biblioteekpersoneel sal almal help wat nie toegang tot die internet het nie.
Vir registrasie word die persoon se identiteitsdokument, selfoonnommer en adres benodig.
• Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde sê die Wes-Kaap beoog om 5 076 130 mense in die provinsie in te ent.
“Pfizer-entstowwe sal gebruik word vir die oorblywende gesondheidswerkers in Fase 1b en vir die aanvang van die inenting van mense 60 jaar of ouer in fase 2.
“Hierdie program sal aan die einde van Mei momentum kry, wanneer Johnson en Johnson-entstof ook weer beskikbaar sal wees.”
Hy sê die datums waarop die entstowwe die land binnekom, sal ’n invloed hê op die datums wat mense in die Wes-Kaap ingeënt kan word.
“Die eerste invoerdatum op 2 Mei sal verseker dat daar vanaf 15 Mei 33 900 dosisse Pfizer na die Wes-Kaap versprei word om die inenting van fase 1b en fase 2 op 17 Mei te begin. Die voorraad sal gebruik word vir gesondheidswerkers en ’n uitreikdiens na ouetehuise.
“Die tweede invoerdatum op 9 Mei sal verseker dat 33 900 dosisse Pfizer vanaf 21 Mei in die Wes-Kaap versprei word. Met die derde invoerdatum van 16 Mei sal 33 900 dosisse Pfizer en 260 000 dosisse Johnson en Johnson-entstowwe vanaf 28 Mei versprei kan word.
Uiteindelik sal die vierde besending van 33 900 dosisse Pfizer-entstof op 25 Mei in die land aankom en vanaf 5 Junie in die Wes-Kaap versprei word.” (Deur Liesel le Roux)
Hier kan inwoners inentings kry teen Covid-19
Dr Charles Dreyer (mediese dienste-bestuurder van die Oudtshoorn-subdistrik waaronder die Oudtshoorn Hospitaal val, middel) verlede week saam met die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Chris Macpherson (links), en waarnemende munisipale bestuurder, Reginald Smit in die lokaal by die Oudtshoorn Hospitaal wat ingerig is vir Covid-19-inenting.
Foto verskaf