OUDTSHOORN het Maandag (10 Mei) vier nuwe inwoners gekry wat daarvan hou om die meeste van die tyd onderstebo te hang, baie te slaap en, ja, almal wat hulle sien, is versot op hulle!
Dié nuwe inwoners van die Cango Wildlife Ranch buite Oudtshoorn heet Sid, Wookie, Shaggy en Moxie. Hulle is luidiere (Choloepus didactylus) wat inheems is aan Suid-Amerika. Mens vind hulle onder meer in Venezuela, Colombië, Ecuador, Peru en langs die Atlantiese kus van Noord-Brasilië.
Luidiere het twee geboë kloue aan die einde van elke ledemaat, en die feit dat hul organe aan die ribbekas vas is om so druk op die longe uit te skakel, maak dit vir hul moontlik om 90% van hul lewens onderstebo te hang.
Die nuwe vier luidiere op Oudtshoorn kom van ’n wildbewaringspark elders in Suid-Afrika. Hulle is aanvanklik in die Cango Wildlife Ranch se Valley of Ancients te sien totdat hul tuiste in Amazonia, ’n nuwe uitbreiding by die Ranch, voltooi is.
Volgens Tammy Moult, assistent-direkteur van die Cango Wildlife Ranch, is die vier nuwe luidiere nogal groot en gemiddeld 65 cm lank. Sy vertel dat luidiere se natuurlike bruin kleur dikwels ’n groen skynsel het omdat alge as gevolg van groewe in hul hare maklik daar groei. Die groen skynsel help hulle om in hul natuurlike habitat met hul omgewing saam te smelt en beskerm hulle teen roofdiere.
Om energie te spaar, beweeg luidiere stadiger as enige ander soogdier op die planeet – gewoonlik nie meer as 38 m op ’n dag nie. Op die grond kan hulle net 30 cm per minuut beweeg, wat hulle uiters kwesbaar vir roofdiere maak.
Toe die Britse natuurkundige en TV-persoonlikheid, Sir David Attenborough, op ’n dag gevra is watter dier hy ’n dag lank sou wou wees, was sy antwoord glo: “ ’n Luidier! Om tot twintig uur per dag te slaap, rond te hang met min om te doen terwyl almal vir jou lief is – klink omtrent so goed as wat moontlik is!” (Deur Liesel le Roux)
Dié vier luidiere gaan baie harte steel
’n Luidier hang onderstebo aan ’n tou; iets wat hulle 90% van hul lewens kan doen.