BORGTOG van R1 000 is verlede week in die Oudtshoorn Landdroshof toegestaan aan ’n man van Bongolethu wat van moord aangekla word en aangedui het hy gaan onskuldig pleit.
Luthando Otto (27) erken in ’n beëdigde ver-klaring dat hy die oggend van 21 Maart vir Abriel (Fennie) van Wyngaardt (27) in Lappertstraat, Bridgton met ’n mes gesteek het.
Ao Martin le Roux, wat namens die ondersoekbeampte getuig het, het die hof meegedeel dat borgtog nie teengestaan word nie omdat Otto na die voorval sy volle samewerking aan die polisie gegee het. Die polisieondersoek is voltooi.
Otto het erken dat hy die oorledene een keer met ’n mes gesteek het.
Volgens Le Roux het die bestuurder van die motor waarin Otto en nog ’n passasier was in Lappertstraat by twee mans – Van Wyngaard en ’n vriend – stilgehou wat hulle verkeerdelik van oproerigheid verdink het. Die vriend het weggekom.
Otto het uitgeklim en Van Wyngaard een keer met ’n mes gesteek.
Hy was glo geskok toe hy later verneem het dat Van Wyngaart oorlede is en het sy kop vasgehou.
Otto se regsverteenwoordiger, adv Benito Metembo, het die hof versoek om borgtog toe te staan omdat geen bewyse voor die hof is dat Otto ’n vlugrisiko is nie, en hy van die begin af sy samewerking aan die polisie gegee het. Hy het ’n vaste werk by CapeNature en ’n vaste woonadres.
Die staatsaanklaer, Leandre Rhodes, het die hof versoek om streng voorwaardes te stel indien borgtog toegestaan word omdat Otto nie ‘n eerste oortreder is nie en tereg staan op ’n ernstige misdryf.
Volgens haar vier moorde die laaste tyd hoogty in die hof se bedieningsgebied.
Landdros Marvin de Vos het daarna borgtog toegestaan op voorwaarde dat Otto hom weerhou van enige kommunikasie met staatsgetuies en nie by verdere misdaad betrokke te raak nie. Die saak is tot 8 Junie uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)