29-jarige in hegtenis vir moord

’N 29-JARIGE man is tans in aanhouding nadat die Oudtshoorn Polisie hom die naweek in hegtenis geneem het vir moord.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is die man in hegtenis geneem nadat Donovan Josephs (24) Vrydagaand (7 Mei) doodgesteek is tydens ’n bakleiery in Smartietown, Oudtshoorn.

“Met die polisie se aankoms op die toneel het die slagoffer reeds in die pad gelê met ’n steekwond in sy bors,” sê Michaels. Volgens haar het ambulanspersoneel Josephs op die toneel dood verklaar. Die verdagte het reeds Dinsdag in die hof verskyn. (Deur Stefan Skapie Goosen)