Herstel van paaie vorder goed

Bo en onder: Langenhovenweg en Rademeyerstraat voor en na herstelwerk aan die pad afgehandel is deur ’n kontrakteur wat deur die Oudtshoorn Munisipaliteit aangestel is. Foto’s verskaf

Slaggate en krake in verskeie Oudtshoornpaaie geniet tans aandag deur die Oudtshoorn Munisipaliteit.

Die herstelwerk vorm deel van hul “Paaie Herstel Projek, wat tans deur ’n kontrakteur wat aangestel is behartig word.

Die projek het op 18 November 2023 afgeskop, en sal tot 29 Maart 2024 duur.

“Hierdie inisiatief dui op ons toewyding om infrastruktuur te verbeter en te verseker dat gemeen- skapslede veilig kan reis,” het Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit aan Die Hoorn vertel.

Daar is tans twee projekte. Projek 1 behels die herstel van Provinsiale paaie soos Voortrekker, Langenhoven en Baron van Reedestraat.

Die koste van die projek beloop R467 418,65.

Projek twee sluit in die herstel van interne munisipale paaie waarvan die projek sowat R7,7miljoen gaan kos. Paaie wat herstel word is onder andere, Buitekant-, Albert-, Vredestraat en Parkweg waar daar reeds herstelwerk plaasvind.

Ander paaie wat nog herstel moet word sluit in Corrigan-, Van der Riet, Scheepers- en Jan van Riebeekstraat, om ’n paar te noem.

Daar is ook verskeie areas geïdentifiseer waar pype gebars het, slaggate en insakkings voorkom en krokodilkrake.

“Die gedeeltes waar die kontrakteur herstelwerk verrig het, sal ook ’n flodderlaag (slurry) kry om die laag beter te beskerm.

Die eerste flodderwerk is reeds in Vredestraat voltooi.” sluit Mle af.