Familie geskok deur skending van graf

Bo: Simon Swigelaar se graf in die Oudts-hoorn Begraafplaas is deur boosdoeners beskadig. Foto verskaf

Simon Swigelaar (90), ’n geliefde inwoner van Oudtshoorn wat op 2 Februarie oorlede is, se familie is platgeslaan nadat grafskenders hul pa se graf slegs ’n dag na sy begrafnis geskend het, en die kiskrans afgesteel is.

Swigelaar is op Saterdag, 10 Februarie in die Oudtshoorn begraafplaas begrawe. Colin Swigelaar, sy seun, het ’n plasing op die sosiale media platvorm, Facebook geplaas oor die skok en woede wat hulle as familie ervaar oor die skending van hul geliefde pa se graf.

“Dis laakbaar en uiters ongevoelig en getuig van disrespek en onmenslikheid”, het Swigelaar hartseer in sy plasing gesê.

Die Hoorn het Swigelaar gekontak. Hy het aan Die Hoorn gesê dat dit baie seer is vir die familie.

“My pa verdien dit nie, maar ook al die ander wat dieselfde ervaar”.

Dit blyk ook op die reaksies van die plasing dat vele ander families wat se geliefdes daar begrawe is, onder dieselfde ervarings deurloop.

Die Hoorn het ’n navraag aan die munisipaliteit gestuur en hulle gevra wat die situasie is wat sekuriteit betref vir die mense se veiligheid wat hul geliefdes wil besoek by die grafte, asook die voorkoming van hierdie dade.

Volgens Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, is daar in die verlede hoofsaaklik op ’n heining staatgemaak vir veiligheid, maar vandalisme en diefstal het na die fasiliteit se huidige toestand gelei.

“Om hierdie kwessie aan te spreek, implementeer die munisipaliteit ‘n nuwe benadering deur bome te plant.”

“Hierdie bome sal dien as ’n vorm van natuurlike heining, terwyl dit ook die estetiese voorkoms van die begraafplaas sal verbeter, maar hierdie oplossing kan tyd neem om ten volle te vestig.

Weens begrotingsbeperkings is die munisipaliteit tans in geen posisie om sekuriteit aan te stel nie”, het Mle aan Die Hoorn gesê. (Deur Lindi Brill)