Heradien bied meestersklas aan

Farren Cloete word deur grimeer-fundi Bradlin Heradien mooigemaak tydens sy meestersklas. Foto: Rudy van Heerden

BEKENDE Oudtshoorn mooimaker, Bradlin Heradien (24) het Saterdag 8 Julie by Queen’s Hotel ’n grimeermeestersklas aangebied vir sowat 80 vroue en grimering-liefhebbers van Oudtshoorn.

Die klas was so gewild dat kaartjies in net bietjie meer as ’n week uitverkoop het. Sy model was hierdie keer die bekende TikTok ster, Farren Cloete van Lambertsbaai aan die Weskus.

Cloete is ’n dominee by die Vrye Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (VGKSA) in Lambertsbaai. Op TikTok is sy bekend vir haar GRWM (Get ready with me) reeks waar sy tydens haar regmaaksessies voor ’n diens haar ondersteuners inspireer met stukkies uit die Bybel. Gaan loer gerus na haar blad.

Heradien het in 2021 ’n klas aangebied en die bekende media persoonlikheid, Tracey Lange, mooigemaak voor ’n groep vroue terwyl hy vir hul praktiese grimeerwenke gegee het. Hy gebruik graag plaaslike modelle, maar hierdie was nog sy grootste klas tot dusver.

“Ek doen dit reeds vir 11 jaar, en dis vir my lekker om vroue te leer dat dit nie so moeilik is om jouself mooi te maak nie, maar dat hulle ook gemaklik kan voel om nuwe goed te probeer,” het hy aan Die Hoorn vertel.

Hy het onlangs ook sy grimeer kwalifikasie gekry, en intussen hou hy sy lyf eiendomsagent en het vroeër die jaar by die Realnet-span aangesluit. “Maar grimering is my passie, en om vrouens mooi te maak, en om ’n stappie verder te gaan en hulle te leer om dit self te kan doen is soveel meer belonend, as wat daar woorde is om dit te kan beskryf,”

Hy het ook ’n stewige klomp borge wat bankvas agter hom staan wanneer hy sulke bederf en mooi- maakdae aanbied, en bedank almal uit die diepte van sy hart.

“Laaste maar nie die minste nie wil ek vir my assistente bedank, wat my so baie gehelp het die dag en vir wie ek kon rondjaag. Baie dankie Herchelle Fouche, Patricia Reynhard, Mandy Hartneck en Anchen April, en die bekwame personeel van die Queens Hotel waar ons die klas aangebied het,” sluit hy af. (Deur Angelique Erasmus)