Help om verkragter vas te trek!

’n Identikit van die ver­-dagte wat gesoek word ivm die verkagting van ’n 12-jarige meisie.

DIE Oudtshoorn Polisie het gister (Woensdag) danksy die hulp van die publiek ’n verdagte aangekeer vir poging tot verkragting, maar vra vir nog hulp met die identifikasie van ’n tweede verdagte wat na bewering ’n 12-jarige meisie agter die Toekomsrus Gemeenskapsaal verkrag het.

Die verdagte wat in hegtenis geneem is, word verbind met ’n poging tot verkragting asook ’n klag van huisbraak, en sal vandag in die hof verskyn.

Ao Gretchen Michaels, ­woordvoerder van die Polisie, sê die man het na bewering op 28 Desember verlede jaar by ’n huis in Rosevalley ingebreek en ’n 17-jarige meisie probeer verkrag.

Michaels sê die mei-sie het die nag omstreeks 02:00 wakker geskrik van iemand in haar kamer. “Die verdagte het bo-op haar gesit en haar met ’n mes gedreig. Haar ouma het haar hulpkrete gehoor. Nadat die ouma na haar geroep het, het die verdagte gevlug, ” sê sy.

Volgens Michaels is die Polisie in die tweede geval op soek na ’n bruin man tussen die ouderdom van 19 en 21 jaar nadat hy op 19 Fe-bruarie vanjaar ’n 12-jarige meisie in die veld agter die Toekomsrus Gemeenskapsaal verkrag het.

Michaels sê die voorval het helderoordag tussen 13:00 en 14:00 plaasgevind. Die meisie het gesê sy ken nie die man nie.

Volgens die identikitsamestelling van die verdagte het hy kort- tot mediumlengte geelbruin “rastahare”, is hy skraal en het hy ’n donkergroen T-hemp, blou jeans en grys tekkies aangehad.

Enigeen met inligting word gevra om die ondersoekbeampte, ao Wa-nietta Uys, by 0442037500 of 0833657138 te kontak. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

Uys het gesê as enige lid van die publiek selfs net ’n naam kan verskaf van die verdagte, wat nog op vrye voet is, kan dit die ondersoek baie help.

Sy het die gemeenskap bedank vir die inligting wat tot die inhegtenisneming van die eerste verdagte gelei het. (Deur Stefan Skapie Goosen)