DIE Dysselsdorp Polisie werk hard daaraan om verdagtes te identifiseer nadat ’n inwoner van die dorp, Johannes Links (22), Maandagaand vermoor is.
Volgens sers Christopher Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, is die polisie omstreeks 20:45 na die toneel in Solomonstraat ontbied, waar hulle met hul aankoms Links met ’n steekwond in die bors aangetref het. Links is volgens Spies later deur paramedici op die toneel dood verklaar.
“Die motief agter die slagoffer se moord is nog nie bekend nie, en die polisie werk hard daaraan om verdagtes op te spoor en in hegtenis te neem,” sê Spies.
Kapt Joey Strydom, stasiebevelvoerder van die Dysselsdorp Polisie, het bevestig dat Links, ’n inwoner van Leliestraat, die aand betrokke was by ’n bakleiery tussen ’n groep mense toe ’n onbekende man hom met ’n mes gesteek het.
Volgens Strydom is twee mans van Dysselsdorp, 23 en 25 jaar oud, reeds in hegtenis geneem, maar moet die ondersoek nog daartoe lei dat die man wat Links gesteek het, geïdentifiseer word. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Dysselsdorp: 22-jarige vermoor, motief onbekend
