Hartseer einde aan soektog

Die liggaam wat Maandagoggend op die R328 grotte-pad, net buite Oudtshoorn ontdek is, is die van die 82-jarige Delia Visagie.

Visagie, of Ant Baba soos sy bekend was, is op 5 Januarie as vermis aangemeld nadat sy ongeveer 14:00 vanaf haar huis in Condorstraat geloop het.

Familie het op sosiale media ’n inskrywing geplaas en gevra dat inwoners op die uitkyk moet wees vir haar. Sy het aan Alzheimer se siekte gely. Sers. Chris Spies, media-skakelbeampte van die SAPD in die Suid-Kaap, het Woensdagoggend haar identiteit bevestig.

Volgens Spies is ’n lykskouing gedoen en geen gemene spel word vermoed nie.

Lede van die groep, Oudtshoorn Community Against Crime, die Spiritual Intervension Oudtshoorn en Ranger Grebe het op Donderdag 8 Januarie ’n gebedsessie gedoen vir Visagie, en die area naby haar huis gefynkam. Daar is ook ’n gebedsessie vir haar gehou die volgende dag by haar huis.

Leon Campher, gemeenskapsleier en stigter van die Oudtshoorn Community Against Crime groep, het sy dank uitgespreek teenoor verskeie rolspelers wat saam gebid het en help soek het.

Boodskappe van medelye het op sosiale media ingestroom vir die familie.

Inligting rakende haar begrafnis was teen druktyd nog nie beskikbaar nie, maar die berig sal opgedateer word op die webtuiste asook verskeie sosiale media platvorms. (ANGELIQUE ERASMUS)