Geskiedkundige dag vir Weyers Memorial

Ds Donald Moos en sy eggenote, ds Nathalie Moos sny die kerk se verjardagkoek. Foto: Garnett Wicomb.

Kersfees 2025 was ’n geskiedkundige dag vir die gemeente van die Weyers Memorial United Congregational Kerk, die stigtingsdag van die kerk 40 jaar gelede, op 25 Desember 1985.

Die diens is waargeneem deur ds Donald Moos, bygestaan deur sy eggenote, ds Nathalie Moos.
Die diens het begin met ’n video wat ’n terug-blik gegee het van die afgelope veertig jaar met die koorsang van die destydse Gospel Counsellors, waarvan al die lede reeds oorlede is.

Ds Donald Moos het met sy boodskap na aanleiding van Jesaja 43: 18,19 die gemeente gemaan om nie nou tot stilstand te kom met die besondere mylpaal nie, maar voort te gaan met wat tot dusver bereik is.

Ds Nathalie Moos het ’n gedenkplaat onthul ter erkenning aan die vroue van die 44 stigtersdiakens vir die onbaatsugtige wat hulle aan hul gades gegee het. Slegs vyf van hulle leef nog.

Kerse is ook tydens die diens aangesteek ter nagedagtenis aan wyle Eerw Phillip Le Roux wat die eerste jare van die kerk die gemeente bedien het op afwagting van erkenning van die UCCSA sinode, asook vir die 42 van die 44 diakens wat reeds oorlede is. In plaas van die gebruiklike opneem van offergawes het gemeentelede elk R40 op drie borde voor in die kerk vasgesteek.

Die gemeente en besoekers het na die diens die syfer 40 op die kerkgronde uitgebeeld vir ’n lugfoto, gesing, en ook 40 ballonne die lug in gestuur waarna almal getrakteer is op iets tee en te drink. (GARNETT WICOMB)

Die Weyers Memorial United Congregational Kerk het op 25 Desember 1985 tot stand gekom toe 44 diakens wat deur die Bridgton Congregational Kerk geskors is ’n Kersfeesdiens gereël het vir hul families en toe verbaas was vir die groot aantal ander families wat ook die diens bygewoon het.