Met die stigtingsvergadering van die KKNK doer in 1994 was die fotograaf, Hans van der Veen, deel van die vergadering en sedertdien het hy meer as honderdduisend feesfoto’s geneem.
Hans het in 1996 as sielkundige uit die weermag bedank en vir 17 jaar as voltydse fotograaf gewerk. Hy het sy sielkundeberoep in die weermag weer in 2013 hervat, maar beoefen steeds fotografie.
Feesgangers het dié man met die vriendelike gesig en innemende geaardheid al gewoond geraak waar hy by vertonings, gesprekke, opvoerings of sommer net oral op die feesterrein agter die lang lens van sy kamera verskyn. Hans vertel dat hy vanaf 1995 tot 2008 vryskutfotografie tydens die KKNK gedoen het, maar sedert 2009 is hy as amptelike feesfotograaf aangestel. Hy skat dat hy tussen 8 000 en 10 000 foto’s per fees neem.
Sy dag begin vroeg om teen 09:00 reeds by die eerste venue te wees en dan kliek hy tot met die laaste vertoning waarna hy foto’s moet kies en aanstuur.
“Ek neem graag teaterstukke af en probeer sover as moontlik om foto’s te neem waar mense doodnatuurlik omgaan. Vir my is daar ’n verband tussen fotografie en sielkunde. Albei het te doen met mense, met hoe hulle omgaan met die wêreld en hoe ek met hulle omgaan.
Hy vertel staaltjies oor die uitdagings van die jare voor 2009 toe hy nog ’n kamera met film gebruik het en die foto’s ontwikkel moes word. Vandag, skat hy, het hy waarskynlik baie meer as 100 000 feesfoto’s in sy argief.
Behalwe vir sy werk as sielkundige en as fotograaf is Hans van jongs af ’n kranige sportman en op 59 neem hy nog aan fietswedrenne soos die Cape Epic deel. (HANNES VISSER)
Hans van der Veen: die man agter die kamera
Hans van der Veen, agter die Feeskamer gekiek tydens 2021 se KKNK. Foto: Angelique Erasmus