Hannes lê tuig na 32 jaar neer

Johannes (Hannes) Jonathan voor die Oudtshoorn landdroskantoo Foto: Garnett Wicomb

DIE langsdienende personeellid van die Oudtshoorn landdroshof, Johannes Jonathan (60), alombekend as Hannes, het einde verlede jaar na 32 jaar diens die tuig neergelê.

Volgens Jonathan werk hy vanaf die ingebruikneming van die nuwe gebou in 1991 as algemene assistent by die hof, wat onder andere ingesluit het dat hy moes toesien na die netheid van die landdroskantoor.

Volgens hom het hy op 4 Januarie 1991 saam met landdros René Gerber en vyf gevangenes die hofbanke van die ou hofgebou op die hoek van Hoog- en Kerkstrate na die nuwe hofgebou aangery.

Landdros Jaco Lambrechts wat in 2020 as hooflanddros afgetree het, skryf dat hy op 1 Julie 1993 by die kantoor begin werk het en Jonathan daar kom kry het.

Hulle het vir 27 jaar saam gewerk en hy skryf dat daar aan die beginjare nie sekuriteitsbeamptes was soos vandag nie, en Jonathan verant- woordelik was om soggens die gebou oop te sluit en aan die einde van die dag weer toe te sluit.

“Jonathan was dus vertrou met al die sleutels van die gebou en hy moes ook elke dag gevangenes by die tronk gaan haal om die hof te help skoonmaak omdat hulle toe net twee skoonmakers was.”

Lambrechts skryf verder in sy getuigskrif oor Jonathan dat daar nooit van die gevangenes weggehardloop het nie.

“Jonathan is ook aangewend om te help met die neem van vingerafdrukke vir identiteitsdokumente en selfs met die invul van die nodige vorms.

“Hy moes ook vir baie jare elke dag pos by die poskantoor gaan haal en uitgaande pos gaan aflewer.”

Volgens Lambrechts was geen taak vir Jonathan te groot nie en het hy altyd alles waaraan hy gevat het met oorgawe gedoen.

Jonathan wat Sondag sy 60ste verjaardag gevier het, sê hy het nog geen planne vir die toekoms nie maar wil eers net lekker rus. (Deur Garnett Wicomb)