Hallo Hannes

Bo: Hannes Visser sluit vanaf 1 September 2024 by Die Hoorn se span aan. Foto: Die Hoorn Argief

Die Hoorn het opwindende nuus. Hannes Visser, voormalige redakteur, skrywer en digter sluit vanaf 1 September 2024 by die span aan.

Hannes is ’n bekende in die koerantwêreld, en sy video’s op Facebook van ongelukke en gebeure in die dorp was altyd baie populêr onder inwoners.

Gedurende sy 10 jaar joernalistieke loopbaan was hy die redakteur van die Oudtshoorn Courant en is deur die Caxton-groep aangewys as ondersoekende joernalis van die jaar (2012) en as rubriekskrywer van die jaar (2020).

Met sy uitgebreide kennis in die nuuswêreld, sien Die Hoorn uit na sy bydrae tot die koerant.

Hannes is opgelei as onderwyser en het vir 20 jaar onderwys gegee waarvan 10 jaar as skoolhoof was van Laerskool Clarens (4 jaar) en Laerskool van der Hoven buite George (6 jaar).

Hy het ook vir 10 jaar sy eie ondernemings gehad onder andere ’n kuns- en raamwinkel en het gereeld skilderkuns beoefen en uitgestal.

Hy het ook ’n uitgewery bedryf vir twee jaar.

Kuns, skryf en digkuns is deel van sy lewe. Sy kortverhale het ook al in nasionale kompetisies sedert 2007 eerste, tweede en derde plekke behaal en vir digkuns eerste en tweede plekke.

“Ek is ’n opgeleide berader en lewensafrigter en het dit op vrywillige basis gedoen” vertel Hannes.

Hy het tot dusver vier boeke gepubliseer – Die jaar toe pa … ’n digbundel wat tans in sy tweede uitgawe is, Voorblad – ’n misdaadroman waarvan die opvolg volgende jaar verskyn. Ligloop as skoene te maklik pas – ’n handleiding vir lewensafrigting en ’n skreeusnaakse boek getiteld Donkirbedônirt – ’n satirese digbundel oor beurtkrag.

“Tans werk ek aan die opvolg van Voorblad en ’n tweede digbundel. Ek ontwikkel manuskripte vir aspirantskrywers en bied skryf- en digkunswerksessies aan.” As stokperdjie doen hy houtwerk, kuns en vroetel op die werf rond.

“Ek is opgewonde om weer deur die oë van ’n joernalis na die gemeenskap en gebeure te kyk,” sluit Hannes af.

Hy en sy vrou Manda is al 42 jaar getroud en woon sedert 2011 in Oudtshoorn.

Hulle het twee getroude kinders, Tanya en Anton, en is ook die grootouers van twee oulike kleinkinders. Tuis hou hulle twee honde en ’n kat hulle geselskap.

Be the first to comment on "Hallo Hannes"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*