Daar is verlede week berig dat ’n gesamentlike verklaring deur John Steenhuisen en Pieter Groenewald, die nasionale leiers van onderskeidelik die DA en VF+, uitgereik is waarin daar kommer uitgespreek is oor die verbintenis van die VF+ en die ANC by sommige plaaslike regerings, wat Oudtshoorn insluit, en dat daar indringend na die kwessie gekyk moet word.
In reaksie op die verklaring het Die Hoorn navrae oor die huidige regering van plaalike eenheid in Oudtshoorn aan Johan Allers (VF+ burgemeester), Zoe Tyatya (ANC onderburgemeester), Suzane Jansen (PA speaker) en Chris Macpherson (voormalige DA burgemeester) gestuur.
Volgens die burgemeester, Johan Allers het die VF+ nog nooit gesê dat die samewerking met die ANC op Oudtshoorn wankelrig is nie en dat die verklaring verwys het na koalisies. “Oudtshoorn het nie meer ’n koalisie nie. Die regering van plaaslike eenheid is geensins wankelrig in Oudtshoorn nie.” Hy wys ook daarop dat die samwerking ook ander partye insluit, naamlik die PA, OGI en Advieskantoor. Hy het nie gereageer op die vraag of onderhandelinge oor plaaslike koalisies / samerkings voortaan slegs op nasionale vlak tussen leiers sal geskied nie.
Die voormalige burgemeester en tans leier van die opposisie in Oudtshoorn, Chris Macpherson het in sy reaksie gesê: “Alle onderhandelinge tussen die DA en die VF+ is nou onder die direkte beheer van die VF+ se nasionale leier en nie meer hul provinsiale leierskap nie.”
Oor die pad vorentoe het hy gesê: “Kleinlike politiekery en soeke na eie persoonlike belang berokken ons dorp baie skade en ons glo dat ons leiers tot ’n vergelyk sal kom wat tot voordeel van al ons inwoners sal wees en wat ’n meer bestendige regering tot gevolg sal hê.” Volgens hom is die DA daartoe verbind om sy volle ondersteuning te gee om bestendigheid te bewerkstellig.
Die onderburgemeester, Zoe Tyatya het die navraag na die ANC se woordvoerder in die Wes-Kaap, Khalid Sayed, verwys. In sy reaksie sê Sayed dat dit politieke leiers se vrye reg is om met mekaar te skakel om verskille op te los en dat die huidige regering van nasionale eenheid ’n positiewe teken is dat partye op nasionale vlak reeds saamwerk.
Met verwysing na Oudtshoorn en die verklaring deur Steenhuisen en Groenewald sê Sayed: “The ANC is thus not at all concerned with this meeting and declaration. It will not negatively impact on the GLU in Oudtshoorn.” Volgens hom was die DA uitgenooi om deel te wees van die regering van plaaslike eenheid, maar hulle het nie die uitnodiging aanvaar nie.
Daar is teen saktyd nie terugvoer vanaf die PA ontvang nie. Nie een van die respondente het aangedui of daar reeds vanaf nasionale vlak met enige rolspelers in Oudtshoorn in gesprek getree is soos wat in die verklaring onderneem is nie. Gerugte wat verlede week die rondte gedoen het dat mosies van wantroue dalk weer ingedien kan word kon nie bevestig word nie en Sayed het in hierdie verband gesê: “There is no motion of no confidence in the pipeline”
Be the first to comment on "Regering van plaaslike eenheid nie in gedrang"