
Links: Die onderburgemeester van Oudtshoorn, Noluthando Mwati, Saterdagoggend by ’n opedag vir seekadette.
Regs: Die seekadette van TS Outeniqua Saterdag op Oudtshoorn. Foto’s: Garnett Wicomb
Deur Garnett Wicomb
DIE vestiging van ’n basis vir seekadette op Oudtshoorn sal help om die dorp se groot uitdagings soos tienerswangerskappe, werkloosheid, drank- en dwelmmisbruik onder jongmense te help hokslaan.
So het die onderburgemeester van die Groter Oudtshoorn, Noluthando Mwati, Saterdagoggend tydens ’n opedag van die Suid-Afrikaanse Sea Kadett Training Ship (TS) by die Oudtshoorn Jeugkafee gesê. Die doel van die opedag was onder meer om belangstelling te wek vir ’n seekadetbasis op Oudtshoorn.
Seekadette is ’n jeugprogram vir leerders bo 11 jaar waartydens hul vaardighede ontwikkel.
’n Groot aantal belangstellende leerders asook volwassenes het die verrigtinge, wat ook Jeugmaand ingelui het, tydens die opedag bygewoon.
Die hoogtepunt van die oggend was ’n drilvertoning deur die kadette van TS Outeniqua van Mosselbaai.
Volgens lt kdr Steve Eriksen van Knysna is meisies en seuns bo 11 jaar welkom om by die seekadette aan te sluit.
“Ons werk nou saam met die SA Vloot en baie van die kadette sluit later by die vloot aan,” het Eriksen gesê.
Volgens hom is dissipline en eerlikheid die twee grondbeginsels vir ’n seekadet.
Mwati het die inisiatief om ’n basis vir seekadette op Oudtshoorn te vestig geloof en ’n beroep op aanwesiges gedoen om dit te steun.
Sy het ook ’n beroep op ouers gedoen om hul kinders te ondersteun wat daarin belang stel om by die kadette aan te sluit.
Volgens offisier Juwayriah Syster is reeds besluit op ’n naam vir ’n seekadetbasis op Oudtshoorn. Dit sal bekend staan as TS Attaqua.
Ouers en onderwysers kan Syster skakel by 084 995 6847.