
Elzahn Simeon wat haar doktorsgraad in maatskaplike werk pas verwerf het. Foto verskaf
’N OUD-LEERDER van die Bergsig Primêre Skool en die Bridgton Senior Sekondêre skool, Elzahn Jorinica Simeon, het op 24 Mei haar doktorsgraad in maatskaplike werk aan die Noordwes Universiteit verwerf.
Simeon is tans ’n senior lektor in maatskaplike werk aan die universiteit.
Haar proefskrif het die volgende navorsingsveld gedek: Die ontwerp van lewenskaarttegnieke wat straatkinders in staat stel om lewensvaardighede te ontwikkel.
Haar navorsing het ten doel om die nasionale en internasionale problematiek rondom straatkinders aan te spreek.
Elzahn het met haar toewyding, harde werk en deursettingsvermoë getoon dat negatiewe omstandighede (sosiaal, maatskaplik en ekonomies) nie noodwendig ’n doodstraf is wat oor jou lewe uitgespreek word nie, het dr David Piedt van Oudtshoorn wat haar goed ken, gesê.
“Ons as gemeenskap is ontsettend trots op haar en haar uitsonderlike prestasie.”