
Klein Karoo Klassique bied vanjaar van 8 tot 10 Augustus nie net wêreldklas klassieke musiek aan feesgangers nie, maar ook hope gratis vermaak vir alle ouderdomme.
Van ’n konsertreeks vir kinders, musiekgesprekke vir kenners en ontbytkonserte tot literêre gesprekke met skrywers, ’n visuele kunsuitstalling, ’n kunsrondleiding en geleenthede om saam ’n verskil in die gemeenskap te maak – daar is iets vir elkeen om te geniet as deel van dié gratis aanbod.
Die Little Maestros-konsertreeks is terug. Jana van der Walt (harp) en Magdalene Minnaar (viool & aanbieder) is Vrydag 9 en Saterdag 10 Augustus 12:30 op die verhoog in die Banketsaal vir konserte vir die jongste luisteraars met musiek van Mozart, Bach en ander geliefde komponiste. Hierdie interaktiewe uitvoerings is saamgestel met kinders in gedagte en sluit interaksie en verduidelikings, asook deelname en beweging saam met die musiek in.
Charl du Plessis, tree na uitgesoekte uitvoerings in gesprek met kunstenaars en bied ’n gratis blik agter die musiek wat op die verhoog te sien was. Sluit aan by hierdie gratis musiekgesprekke in die banketsaal met van Suid-Afrika se voorste klassieke musici.
Elke feesdag begin met ’n Ontbytkonsert waar klassieke musiek en ’n heerlike ontbytspyskaart byeenkom. Hierdie gratis konserte word soggens vanaf 08:00 aangebied en bied die perfekte kombinasie van inspirerende musiek en ’n ontspanne atmosfeer. Of jy nou ’n liefhebber van klassieke musiek is of net jou dag rustig wil begin, daar is iets op die ontbytspyskaart en in die program vir elke smaak. Die musiek tydens die ontbytkonsert is gratis.
Drie boekgesprekke, moontlik gemaak deur NB Uitgewers, word in die Banketsaal aangebied. Hier kan gehore insig oor skrywers se nuutste werk, hul skryfprosesse en die stories agter die stories kry. PJO Jonker gesels Vrydag 8 Augustus 16:00 met Marliza van den Berg oor sy boek, Die Onsigbare. Saterdag 9 Augustus 10:45 tree Juliette Mnqeta in gesprek met Elna van der Merwe oor haar boek, If The Dead Could Talk. Op 10 Augustus om 11:00 gesels die Hertzog-pryswenner Willem Anker met Van der Merwe oor sy novelle, Patmos.
René Scribante is die kurator van die fees se visuele kunsuitstalling in die Banketsaal, onder die tema Sacred Pulse. Werke van gevestigde en opkomende kunstenaars uit die Klein Karoo en die breër Suid-Kaap word uitgestal. Scribante bied Vrydag 8 Augustus 17:00 ’n visuele kunsrondleiding van die werke in die Banketsaal aan.
Die Oudtshoorn ReWOLusie gemeenskapsprojek wat ’n groot impak in die omgewing maak, werskaf daagliks in die Banketsaal. Feesgangers word uitgenooi om saam met dié span te brei en te hekel. Elke blokkie wat tydens die fees hier gebrei of gehekel word, vorm deel van ’n groter projek om komberse vir minderbevoorregte gemeenskappe te maak en te skenk.
Hierdie handgemaakte komberse word nie net ná die tyd saamgestel nie – sommige is reeds beskikbaar om feesgangers tydens uitvoerings in die Burgersentrum warm te hou. Steun hierdie plaaslike inisiatief deur ’n donasie te maak in ruil vir ’n kombers of koffie-tafelboek oor die Oudtshoorn ReWOLusie of skenk ’n bol wol en help ons om die draad van omgee voort te spin.
Al die gratis vermaak word addisioneel tot nege musiekuitvoerings deur van Suid-Afrika se voorste klassieke musici aangebied. ’n Beperkte aantal Klassique-pakkette is beskikbaar, wat aan fees-gangers die geleentheid bied om al nege uitvoerings teen ’n besparing van meer as 20% te sien.
Kaartjies is aanlyn beskikbaar, of by die KKNK-kantoor. Beskikbare kaartjies word ook voor uit-voerings by die deur verkoop. Vir meer inligting, besoek klassique.co.za of kontak die KKNK-kantoor per e-pos by info@kunste.org.za, skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.