Duisende matrieks regoor die Wes-Kaap het reeds begin met hul rekordeksamen – ’n belangrike toetslopie voordat die eindeksamen later vanjaar aanbreek.
Volgens die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) is 71 289 voltydse kandidate vanjaar vir die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) geregistreer.
Die Wes-Kaapse minister van onderwys, Jaco Londt, sê die rekordeksamen is ’n belangrike mylpaal in ’n matrikulant se akademiese jaar en bied leerders die geleentheid om te bepaal waar hulle met hul voorbereiding staan voordat die eindeksamen aanbreek.
Die eksamen kan leerders help om hul sterk punte te identifiseer, maar ook uit te wys aan watter vakke of afdelings hulle in die komende weke nog ekstra aandag moet gee.
Londt het leerders aangemoedig om die rekordeksamen as ’n waardevolle leergeleentheid te benut en gefokus en gedissiplineerd te bly.
Hulp is net ’n kliek weg
Matrikulante wat ekstra hulp met hul voorbereiding nodig het, het gratis toegang tot ’n verskeidenheid hulpbronne op die WKOD se Matric Support-webblad.
Hier kan leerders onder meer vorige Graad 12-vraestelle en memorandums kry, asook studiegidse, vakspesifieke ondersteuning en video’s van die Telematic Schools Project.
Daar is ook studiewenke en hulp met die beplanning van eksamenvoorbereiding, inligting oor finansiering vir verdere studies en hulpbronne wat op leerders se gesondheid en welstand fokus.
Leerders wat nie geredelik toegang tot die internet het nie, kan gratis van die Wes-Kaapse regering se e-sentrums gebruik maak. In Oudtshoorn is e-sentrums by die Protea Volksentrum in Bridgton, die Bongolethu-biblioteek en Saturnus Primêr in Toekomsrus beskikbaar. Daar is ook ’n e-sentrum by die Thusong-sentrum in Dysselsdorp.
Die ondersteuningsmateriaal kan gratis hier besigtig word:
westerncape.gov.za/education/matric-support
Met die eindeksamen wat later vanjaar wag, bied die rekordeksamen aan matrieks die kans om nou vas te stel waar die skoen druk – en nog betyds iets daaraan te doen. (MALISSA SPIES)
Gratis hulp vir matrieks beskikbaar
Salome Herold het vandeesweek Hoërskool Môrester se Graad 12-leerders toegespreek en bemoedig voor die aanvang van hul rekordeksamen. Foto verskaf.