Namate veranderende weerpatrone groter risiko’s vir Oudtshoorn en die Klein Karoo inhou, word die streek se vermoë om op rampe en ander noodsituasies te reageer terselfdertyd versterk.
Langdurige droogtes, veldbrande, oorstromings en hewige wind kan volgens die Tuinroete-omgewingsforum (GREF) in die toekoms ’n toenemende uitdaging vir die streek word.
Die forum waarsku dat klimaatsverandering nie meer bloot as ’n toekomstige bedreiging beskou kan word nie en dat gemeenskappe, grondeienaars, die landbousektor en owerhede vooraf sal moet saamwerk om die impak daarvan te beperk.
Vir die Klein Karoo is langdurige droogtes veral ’n risiko. Landbou vorm ’n belangrike deel van die streeksekonomie en die gevolge van droogte kan veel verder as plase strek, met werksgeleenthede, voedselproduksie, watersekerheid en die plaaslike ekonomie wat geraak kan word.
GREF wys egter ook op die risiko van vernietigende oorstromings, veldbrande en sterk wind. Volgens die forum het gemeenskappe, infrastruktuur, landbou en natuurlike gebiede in die Suid-Kaap die afgelope jare reeds onder ernstige weersverwante rampe deurgeloop.
Teen dié agtergrond bly breër ramp- en noodgereedheid ook ’n prioriteit in die Tuinroete, met nuwe toerusting wat die distrik se vermoë versterk om onder meer chemiese stortings en voorvalle met gevaarlike materiale te hanteer.
Die Wes-Kaapse Regering het Maandag, 24 Augustus, nuwe toerusting ter waarde van R1,5 miljoen aan die Tuinroete-distriksmunisipaliteit (TDM) se Brand- en Reddingsdienste oorhandig. Dit sluit ’n mobiele noodreaksie-eenheid in wat strategies vir die Oudtshoorn- en Kannaland- gebied geplaas is.
Volgens TDM-brandweerhoof Deon Stoffels is soortgelyke mobiele reaksiesleepwaens reeds in Knysna en Riversdal geplaas. Die doel is om vinniger ontplooiing en die aanvanklike hantering van noodsituasies moontlik te maak.
Vir Oudtshoorn en die Klein Karoo is dié kapasiteit veral belangrik weens voorvalle met gevaarlike materiale wat op belangrike vervoerroetes soos die N9 en R62 kan voorkom.
Die distrik verwys ook na uitdagende gebiede soos die Swartbergpas. Die nuwe toerusting sluit beskermende pakke vir gevaarlike materiale, draagbare ontsmettingsgeriewe, toerusting vir chemiese stortings, absorberende materiaal en gasopsporingstoerusting in. Daar is ook toerusting waarmee lekkende dromme en pype verseël kan word.
Die belegging vorm deel van ’n groter uitbrei-ding van rampreaksievermoë in die Tuinroete. ’n Vloedreaksiebasis van R7,5 miljoen word tans by die streekbrandweerstasie in George ontwikkel en sal onder meer vloedreaksietoerusting, watertenk-waens, mobiele noodkragopwekkers en brandweervoertuie huisves.
Volgens GREF sal die streek se vermoë om toekomstige uiterste weersomstandighede te hanteer egter nie net afhang van wat gebeur wanneer ’n ramp reeds toeslaan nie. Voorbereiding en samewerking tussen gemeenskappe, owerhede en grondeienaars sal ’n toenemend belangrike rol speel om die Klein Karoo meer weerbaar te maak.
Klein Karoo versterk gereedheid vir rampe en noodsituasies
Brandweerleerlinge Ebenezer Shikapa (links) en Rodwin van Wyk in Klas A-beskermingspakke – volledig omhulde pakke wat saam met asemhalingstoerusting gebruik word. Foto verskaf.