’n Fees van vetplantskatte te sien in Calitzdorp

Van piepklein plante wat maklik tussen die klippe verdwyn tot indrukwekkende aalwyne – die Klein Karoo se besonderse vetplantwêreld kry in September weer die kollig wanneer die jaarlikse Vetplantfees na Calitzdorp terugkeer.

Die negende Calitzdorp Vetplantfees word van 18 tot 20 September by die Calitzdorp-stasie aangebied en bring vetplantliefhebbers, kwekers en kenners van verskillende dele van die land byeen.

Die fees, wat deur die Calitzdorp Succulent Society aangebied word, fokus op Suid-Afrika se inheemse en skaars vetplante, asook spesies van elders in die wêreld.

Calitzdorp is ’n gepaste tuiste vir die fees, aangesien talle vetplantspesies wat endemies aan Suid-Afrika is, natuurlik in die Klein Karoo voorkom.

Duisende skaars en inheemse vetplante sal gedurende die naweek te koop wees, met verskeie van Suid-Afrika se spesialiskwekers wat hul plante uitstal. Nuwe verkopers sluit vanjaar ook by die fees aan.

Volgens die organiseerders word verkopers versoek om slegs plante te verkoop wat kunsmatig gekweek of vermeerder is en nie uit die veld verwyder is nie.

Besoekers wat die plante eerder in hul natuurlike habitat wil sien, kan aan begeleide veldstappe op Jakkalskop deelneem. Opgeleide CapeNature-gidse neem klein groepe op sowat 90 minute lange staptogte waartydens verskeie vetplantspesies, waarvan talle dié tyd van die jaar blom, van nader bekyk kan word.

Die veldstappe word tot agt deelnemers per groep beperk en voorafbespreking is noodsaaklik.

Verskeie kenners sal ook gedurende die fees gratis praatjies aanbied. Dr. Ernst van Jaarsveld en Cornell Beukes vertel Vrydag onder meer van ’n 12 dae lange ekspedisie deur die droë en woestyngebiede van suidwestelike Angola, waar hulle Welwitschia en ander vetplantspesies bestudeer het.

Hulle bied om 14:00 nog ’n praatjie aan, dié keer oor vetplante in die Krugerwildtuin en navorsing om die spesies wat daar voorkom, te dokumenteer.

Saterdag verskuif die fokus terug na eie bodem wanneer Buck Hemenway oor die aalwyne van die Klein Karoo gesels en besoekers meer vertel oor waar dié plante voorkom en hoe verskillende spesies uitgeken kan word.

Nog ’n hoogtepunt is die skaarsplantveiling Saterdag om 11:00, waar volwasse en soms besonder skaars plante, kunswerke en ander items opgeveil word.

Die naweek sluit verder praktiese werkswinkels, ’n plantuitstalling en -kompetisie en ’n botaniese kunsuitstalling in. Die kunsuitstalling vorm reeds sedert 2017 deel van die Vetplantfees en bied werk van plaaslike en ander botaniese kunstenaars.

Saterdagaand word ’n feesete aangebied wat deur die dames van die NG Kerk in Calitzdorp voorberei en bedien word.

Die bekende aalwynkenner Jaap Viljoen is vanjaar die gasspreker en sal onder die tema Aloes: Yesterday, Today and Tomorrow terugkyk op sy meer as 65 jaar lange belangstelling in aalwyne en hoe dié plante en die belangstelling daarin oor die jare verander het.

Toegang tot die Vetplantfees en plantverkoping is gratis, terwyl fooie vir sekere veldstappe, werkswinkels en spesiale geleenthede geld.

Die fees is Vrydag en Saterdag van 09:00 tot 17:00 oop en sluit Sondag om 15:00.

Vir meer inligting, besoek: Vetplantfees 2026 – Vetplant