
EN nou word daar gras op Oudtshoorn gesteel…
Die slagoffer is die Oudtshoorn Gholfbaan waar sowat 3 m² van die gras langs die setperk van die 12de putjie vroeër die week verwyder is.
Die diefstal is Maandag ontdek.
Volgens Louis Fourie, onderkaptein van die gholfklub, het die grasdiewe toegang verkry tot die gholfbaan deur ’n sloot wat om die gholfbaan loop. Die sloot moet kwaaddoeners uithou. Die diewe het egter die sloot met grond gevul, betonblokke daaroor gesit en daarna met ’n voertuig, vermoedelik ’n bakkie, tot by die 12de putjie gery.

Volgens Willem Burger, ’n lid van die Oudtshoorn Gholfklub-komitee het hy Maandag opgemerk dat dié gedeelte mooi netjies afgemerk is. Dinsdagoggend was gras vanuit die uitgemerkte gedeelte verwyder.
Die sloot is dieselfde dag deur Burger breër gemaak om mense uit te hou.
“Hierdie is nie die eerste keer dat ons onder grasdiewe deurloop nie,” sê Ockie Horowitz, baanopsigter van die Oudtshoorn Gholfbaan. Volgens Horowitz is gras verlede jaar by twee geleenthede vanaf bowwe gesteel en met kruiwaens verwyder.
Hy sê gedeeltes van die heining aan Voortrekkerweg se kant word ook deurlopend weggedra. “Die klub het nie die fondse om dit te vervang nie!”
• Volgens Fourie is daar ’n persepsie dat die gholfbaan munisipale grond is, maar dat dit nie die geval is nie.
“Dit is privaat-grond en reg van toegang word voorbehou. Die grond behoort aan die gholfklub.
Volgens Fourie ondervind die klub verskeie probleme. “Van ons jonger spelers is al op die baan beroof, party lede is al met klippe gegooi terwyl daar selfs al deur mense skape na die baan gebring is om daar te wei!
“Naweke en vakansietye vind ons dat kinders hul honde na die baan bring en klein bokkies en hase vang,” sê Fourie.
Meer as 30 ganse en eendjies wat by die gholfbaan gebly het, is ook weg en vermoedelik gesteel of gejag.
Fourie sê egter die sekuriteit van die baan is onlangs opgegradeer om die baan te beveilig.
“Hierdie is Oudtshoorn se enigste gholfbaan en ons verwelkom en moedig mense aan wat in gholf belangstel aan om by die gholfklub aan te sluit. Mense wat foto’s wil neem vir geleenthede is welkom om vooraf toestemming te verkry deur ’n versoek te rig aan die klub.
• Saterdag bied die gholfbaan die Suid-Kaap Order of Merit, ook bekend as die Oudtshoorn Ope, aan. Dit is ’n provinsiale toernooi met die Suid-Kaap se beste spelers wat hier kom speel.
Kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, sê geen diefstalklag word tans ondersoek nie. (Berig deur Angelique Erasmus)