Tweede Spay-a-Thon op Oudtshoorn

Veeartse hard aan die werk Dr Karlien Botha van die staatsveeartskantoor op Oudtshoorn (links) en dr Trude Burger van Oudtshoorn gister hard aan die werk tydens die massasterilisasie van 100 diere as deel van die Spay-a-Thon. Foto: Schalk le Roux
Deur Liesel le Roux
DIE poging om die aanteel van honde en katte sonder heenkome in die Groter Oudtshoorn te beperk, het vandeesweek ’n hupstoot gekry met die sterilisasie van 100 diere deur ’n span veeartse van Oudtshoorn en De Rust.
Dié groot poging maak deel uit van vanjaar se Spay-a-Thon, ’n dieresterilisasieprojek van twee plaaslike dierewelsyngroepe, die Animal Care Team (ACT) en Oudtshoorn Volunteers vir Diere, in samewerking met die staatsveearts, die Oudtshoorn Diereskut en Oudtshoorn Dogs in Need.
Die eerste Spay-a-Thon het verlede jaar plaasgevind.
Die Spay-a-Thon is vanjaar moontlik gemaak deur ’n donasie van die Oudtshoorn munisipaliteit.
“Op dié wyse speel die munisipa liteit ’n aktiewe rol in die verbetering van diere welsyn op die dorp,” sê Vanessa Engelbrecht van ACT. Sy het die munisipaliteit bedank vir die donasie en vir hul ondersteuning.
Volgens Engelbrecht is diere met die hulp van die Oudtshoorn Diereskut vir die kliniek gekeur, onder meer vanuit die landelike gebiede om Oudts hoorn waar gemeenskappe nie so ’n diens kan bekostig nie. Dit sluit diere van Buffelsdrift, Vergelegen en Spieskamp in.
Ook diere van Dysseldorp en Calitzdorp is gesteriliseer. Op Dysseldorp is die eerste 30 diere die laaste drie weke gesteriliseer, terwyl honde en katte vanaf Calitzdorp na Oudtshoorn vir die Spay-a-Thon gebring is.
• Veeartse betrokke by die projek was drs Glen Carlisle, Reinette du Plooy, Trude Burger, Garth Ryder en die staatsveearts, Karlien Botha.
Hulle is bygestaan deur die dieresorgverpleegsters Hilda Mills en Sunet Gouws en vrywilligers van die Cango Wildlife Ranch, terwyl James Saayman gehelp het met ekstra beligting vir die tydelike teater.