Vrywilligers wat ’n dorp en gemeenskap help red

Deur Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux

Die rol wat vrywilligers in dierewelsyn organisasies in die Groter Oudtshoorn speel, kan nie oorskat word nie.

Daar sou nie vandeesweek ’n tweede groot Spay-a-Thon op die dorp plaasgevind het as dit nie vir die inisiatief, dryfkrag, liefde en hard werkend heid van vrywilligers was nie.

En ja, hierdie mense – wat dwarsdeur elke warm somer en elke koue winter op weeklikse basis uitreik na gemeenskappe in en om Oudtshoorn en so omsien na diere in nood – doen dit ten spyte daarvan dat hulle ’n beroep met sy eie eise beklee.

Die Groter Oudtshoorn se inwoners is groot dank verskuldig aan die Animal Care Team (ACT) onder die leiding van Vanessa Engelbrecht en Makayla Bacon, en Oudts hoorn Volunteers vir Diere onder die leiding van Lee-Ann van Sittert.

Die beperking van die aanwas van honde en katte is seker die belangrikste manier waarop die verskriklike verwaarlosing en selfs mishandeling van diere aangespreek kan word.

Want vir elke hond en kat met ’n liefdevolle huis, is daar honderde sonder heenkome – verwaarloos, verniel,
honger, uitgeteer of siek.

Vanessa, Mikhaila en Lee-Ann is nie die enigste vrywilligers (die meeste voorwaar vroue) met harte van goud maar ook met durf en vasberadenheid as eienskappe nie.

Dankie aan hulle en al die ander vrywilligers wat gee én doen en so ’n verskil maak in julle dorp en gemeenskap.