G’n twyfel dat inenting teen Omicron beskerm

MET die nuwe Omicron-variant wat vinnig versprei, is daar uit verskeie oorde vandeesweek opnuut ’n beroep op mense gedoen om hulle teen Covid-19 te laat inent.

Volgens Nadia Ferreira, woordvoer­der van die Departement Gesondheid in die Tuinroete Distrik, was daar teen gister 272 meer Covid-19-gevalle in die streek as die vorige week. “Met die nuwe Omicron-variant wat vinnig versprei, doen ons weer eens ’n beroep op diegene wat nog nie ingeënt is nie om enige van die vele geleenthede wat binne die gemeenskappe gebied word, aan te gryp; veral omdat ons nou die vierde golf betree.”

Dr Wessel Vermeulen, ’n algemene praktisyn van Oudtshoorn, sê daar is geen twyfel dat inenting mense beskerm nie.
Hy sê hoewel die positiwiteitskoers op Oudtshoorn nog laag is, word hoofsaaklik jonger mense tussen 18 en 40 jaar oud tans siek.

“In hierdie vroeë stadium van die vierde golf sien ons hoofsaaklik ligte simptome by mense wat positief toets, maar dit kan ver­ander. Die beskerming wat die inenting aan mense bied, is egter baie duidelik en waarskynlik die rede waarom minder ouer mense – ’n groep met ’n hoë inentingskoers – dit opdoen.”

Hy sê hy is optimisties dat die vierde golf hier dalk nie so hard soos die vorige golwe gaan slaan nie. Die simptome van die Omicron-variant is hoofsaaklik kwaai hoofpyn en onverklaarbare, erge moegheid, terwyl ’n effense loopneus, seer keel en soms diaree ook voorkom.

Vermeulen sê daar is volgens sy kennis niemand die afgelope drie maande in privaathospitale op Oudtshoorn, George, Mosselbaai en Knysna vir Covid-19 opgeneem wat ingeënt was nie.

“Mense wat in dié tydperk gesterf het, was ook nie ingeënt nie.

“Dit bly tragies en verstommend dat daar steeds mense is wat hulle nie wil laat inent nie.”
• Teen gister was daar geen Covid-19-pasiënte in hospitale op Oudtshoorn en Ladismith nie.
• Inentings in die Groter Oudtshoorn en Kannaland kan tot 10 Desember gedoen word by die volgende plekke: Zoar
Kliniek (10 Desember), Calitzdorp NGK-saal (9 Desember), Amalienstein Kliniek (10 Desember), Toekomsrus Kliniek (9 Desember), Dysselsdorp Kliniek (10 Desember), De Rust Kliniek (9 Desember), Oudtshoorn Kli-niek, Bongolethu Kliniek en Bridgton Kliniek (10 Desember). (Deur Liesel le Roux)