Siobhon Engelbrecht (18) van Oudtshoorn in aksie op die rug van haar volbloedperd Golder. Siobhon ry al perd vandat sy twee jaar oud is en is tans die trotse eienaar van vyf perde. Foto verskaf
Deur Angelique Erasmus
’N matriekleerder van Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn, Siobhon Engelbrecht (18), het die goeie nuus gekry dat sy aanvaar is as ’n vrywillige werker by die 2020 Olimpiese Spele wat in Japan sal plaasvind.
“Ek het verlede jaar gesien my vriendin het aansoek gedoen om as vrywilliger by die Spele te werk, en toe besluit om ook aansoek te doen,” vertel Siobhon.
Presies ’n jaar nadat sy aansoek gedoen het, is sy per brief deur die organiseerders gekontak en die goeie nuus met haar gedeel.
“Ek is gekies om vanaf 25 Julie tot 8 Augustus 2020 daar te werk.”
Siobhon sê sy sal graag in die dressuur-afdeling of enige plek waar perde betrokke is, wil werk.
Deel van die voorwaardes as vrywilliger is dat jy jou eie verblyf en vliegtuigkaartjie moet betaal, maar die
Spele verskaf jou etes en vervoer na en van die arena.
“Ek is ongelooflik opgewonde oor hierdie wonderlike geleentheid wat aan my gebied word, en ook om ’n ander land te kan verken.”
Siobhon is ’n groot perdeliefhebber en ry al vandat sy twee jaar oud is perd. Sy het vyf perde op ’n plaas buite Oudtshoorn.
Sy is trots op haar prestasies met Golder, ’n volbloedreun. “Ek het al in kompetisies 1,1 meter hoog met Golder gespring, en wanneer ons by die huis oefen 1,3 meter!”
In haar vryetyd bied Siobhon pretritte aan vir persone wat daarvan hou om perd te ry.
“Ek wil nadat ek terugkom van Japan af graag voltyds met perde werk, maar ek dink ook daaraan om dalk B Com te studeer,” sê sy.
Maar vir nou fokus sy eers op haar matriekeindeksamen wat voorlê.