Plaaslikes bekommerd oor ‘gebrek aan leierskap’

Deur Liesel le Roux
’N GEBREK aan leierskap by die Groter Oudts­hoorn Munisipaliteit wat lei tot verdeeldheid tussen raadslede, amptenare en inwoners, is verlede Donderdag by ’n vergadering van ver­skeie plaaslike rolspelers met die Wes-Kaapse minister van plaaslike rege­ring, Anton Bredell, uitgewys as ’n probleem wat alle groei en same­werking in die dorp tot stilstand laat kom het.

Die vergadering is deur AfriForum Oudtshoorn gereël en gefasiliteer nadat hulle oor ’n lang tydperk met Bredell gekorrespondeer en gesels het oor kwessies op die dorp wat hulle tot kommer stem. Ander rolspelers is ook na die vergadering genooi, terwyl Bredell ook ’n lys voorsien het van briefskrywers wat hom met vrae gekontak het.

Onder die teenwoordiges was verteenwoordigers van die Oudtshoorn Besigheidskamer, geor­ga­niseerde landbou, die toerismebedryf, Red Oudts­hoorn en die plaaslike pers terwyl amp­tenare van die Wes-Kaapse Departement Plaaslike Rege­ring Bredell vergesel het.

Bredell het vroeg in die vergadering gesê dat hy nie kan kommentaar lewer of vrae beantwoord oor die DA nie, aangesien dit op politieke vlak lê en hy as Wes-Kaapse minister nie ’n politieke rol by so ’n vergadering kan speel nie.

By die vergadering is onder meer die volgende geopper:
• Volgens Johan Conradie, voorsitter van AfriForum, word ’n goeie leier daaraan geken dat hy sy mense bymekaar hou en nie toelaat dat daar onmin tussen raadslede en tussen raadslede en die amptenare is nie. “ ’n Goeie leier praat met verskillende gemeenskappe en kommunikeer met die mense. Wat het die burgemeester en die mense wat saam met hom loop die afgelope drie jaar gedoen vir die ontwikkeling van die dorp?”

• Conradie het verwys na spanning tussen DA-raads­lede onderling en tussen DA-raadslede en amptenare wat deur die DA aangestel is, met gerugte van persoonlike agendas wat gedryf word. Mosies van wantroue is ook die afgelope tyd by raadsvergaderings teen kundige raadslede ingedien.

Dié verdeeldheid doen die dorp skade aan, het van die rolspelers gesê, met verskeie wat in dié verband verwys het na die onlangse bedanking van twee bekwame senior amp­tenare – Felix Lötter, finansiële hoof, en Chris Koch, direkteur tegniese dienste,

Daar was by die vergadering kommer oor die verlies aan kundigheid na die bedanking van Lötter en Koch, klaarblyklik as gevolg van ondraag­like werksomstandighede.

Koch was die inge­nieur aan die spits van die belangrike Blossoms­projek en het ook onlangs ’n besigheidsplan vir ’n watersuiweringsaanleg vir die dorp geskryf, terwyl Lotter instrumenteel was in die drastiese vermindering van miljoen rande se skuld toe die DA in 2016 na administrasie oorgeneem het.

Daar is klaarblyklik nog kundige amptenare wat beoog om te bedank.
• Bredell het gesê hy kan as minister nie vrae oor politieke aangeleenthede antwoord nie maar dat hy wel bewus is van ’n leierskapprobleem binne die raad op Oudtshoorn. “Mens moet versigtig wees om nie net een leier uit te sonder nie, want jy het ’n span wat lei. Daar is probleme in die span van Oudtshoorn.”

• Verskeie sprekers het daarop gewys dat dit die eerste 18 maande nadat die DA oorgeneem het, goed op Oudtshoorn gegaan het, maar dat verhoudinge met organisasies en die gemeenskap daarna verswak het.