Jenna-Leigh Bilong as die nuwe bemarkings- en kommunikasiebestuurder.

Lizané Basson, nuwe algemene bestuurder.
Deur Liesel le Roux
KUNSTE ONBEPERK, aanbieder van die KKNK, Klein Karoo Klassique en die Teksmark, het pas ’n goeie dosis vrouekrag bygekry met die aanstelling van twee ervare vroue – Lizané Basson as nuwe algemene bestuurder en Jenna-Leigh Bilong as nuwe bemarkings- en kommunikasiebe-stuurder.
Jenna-Leigh het reeds in September diens aanvaar, terwyl Lizané Maandag (14 Oktober) by Kunste Onbeperk op Oudtshoorn begin het
“Ons is baie opgewonde om hierdie twee nuwe aanstellings aan te kondig,” sê die artistieke direkteur van Kunste Onbeperk, Hugo Theart.
“Lizané en Jenna-Leigh is twee besonderse mense – hulle het ’n liefde vir die kunste, ’n passie vir mense en albei is gedrewe en hardwerkende individue. Kunste Onbeperk se direksie en personeel sien daarna uit om saam met hulle die volgende paar jaar aan te pak en te bou op die sukssesse en nalatenskap van hulle voorgangers.”
Jenna-Leigh het 15 jaar ondervinding in die mediabedryf. Sy het haar tande by die Vallei FM-gemeenskapsradiostasie in Worcester geslyp waarna sy onder meer skakelbeampte vir die Nasionale Instituut vir Dowes was. Sy was daarna ’n radio-aanbieder by RSG en daarna sowat sewe jaar ’n nuusleser- en skrywer by eNuus op kykNET en kykNET en kie. Sy is deesdae op vryskutbasis deel van die SABC2-nuusspan op SABC 2.
“Ek is opgewonde om deel van ’n dinamiese organisasie soos Kunste Onbeperk te wees, wat ’n belangrike rolspeler in kuns en kultuur in Suid-Afrika is, ’n ekonomiese bydrae tot Oudtshoorn en die Wes-Kaap maak en ’n rits geleenthede vir die bedryf skep.”
Jenna-Leigh vertel dat sy gesoek het vir werk in Afrikaans, en glo in die krag van die kunste.
“Die kunste en kultuur beïnvloed alles. Dit beïnvloed die politiek, dit beïnvloed die ekonomie, die sosio-ekonomiese welstand van gemeenskappe, en darom wil ek juis kuns en kultuur beïnvloed. Ek glo die kunste kan ’n positiewe bydrae lewer tot gemeenskappe. Ek wil ook help om platforms te skep sodat my mense kan deelneem aan die ekonomie van kuns en kultuur, kan deelneem aan die ekonomie van Afrikaans.”
Lizané wat oor uitgebreide projek-, administratiewe en finansiële bestuursvaardighede beskik, was sedert 2006 by die ATKV waar sy aan verskeie projekte gewerk het, onder meer die Tienertoneelkompetisie en die ATKV-Tjokkertoneel (toneelkompetisie vir laerskole).
“Ek het ’n groot liefde vir die kunste en vir die bemagtiging van veral jong mense. Ek glo dat die kunste werklik ’n nasie kan verander, kan versoen, kan bemagtig en opbou. Daarom is dit vir my lekker en ’n behoefte om in die kunste te kan werk.
“ ’n Organisasie soos Kunste Onbeperk werk voorts met mense plaaslik maar bied ook ’n nasionale kunstefees aan en daar is nie vir my ’n beter platform om my liefde vir die kunste uit te leef en bemagtiging te doen van mense wat nie soveel toegang het tot die kunste nie.”

Lizané Basson (links) en Jenna Leigh Bilong Maandag by Kunste Onbeperk se kantoor op Oudtshoorn. Foto: Liesel le Roux
Vra jy Jenna-Leigh en Lizané oor die toekoms van Kunste Onbeperk word die vraag met groot geesdrif begroet.
“Ek is baie positief,” sê Jenna-Leigh. “Ek is veral opgewonde oor die Toekomsrus- projek. Ek is opgewonde want daar is baie planne vir ontwikkeling en die ontginning van nuwe talent en van vaardighede, en dit alles speel so ’n groot rol in die behoud van die bedryf self.
“Ek dink ons is ’n dinamiese span op die oomblik wat as ons ons koppe bymekaarsit iets saam met die gemeenskappe kan doen wat ’n blywende impak sal hê. Ek wil doelbewus ’n omgewing skep waar die gemeenskap – die Oudtshoorn-gemeenskap en die kunstegemeenskap – kan weet dat hierdie nie net ’n organisasie is wat van bo na onder bestuur word nie, maar dat dit ’n organisasie is wat luister na die mense en waar die mense self betrokke is en eienaarskap neem van projekte.”
Lizané sê sy beskou die KKNK as ’n markleier as dit kom by feeste. “Die KKNK was immers die oorspronklike fees.
“Dit is ’n groot voorreg om deel te kan wees hiervan en om voortaan saam met die bestuur besluite hieroor te neem,” sê Lizané. Dié ma van twee is tans besig met haar graad in besigheidstudies en sê sy sien baie daarna uit om in die Klein Karoo te kan woon Bilong wie se werk heelwat skakelwerk met groot maatskappye sal behels, sal in Johannesburg waar sy tans woon, aanbly, maar waar en soos nodig gereeld na Kaapstad en Oudtshoorn reis.