De Rust-poskantoor weer oop!

Die poskantoor se nuwe perseel in Schoemanstraat 16 op De Rust. Foto: Niekie Eksteen

Deur Angelique Erasmus
DE RUST se poskantoor is sedert 2 Oktober weer oop nadat dit sedert Meimaand twee keer van perseel moes verwissel en ook by tye gesluit was, onder meer die hele September.

Volgens Martie Gilchrist, streekkommunika­siebeampte van die Suid-Afrikaanse Poskantoor, was die poskantoor op De Rust vantevore slegs ’n agentskap in privaatbesit.

“Nadat die eienaar egter weg is, het dit ’n volwaardige tak van die poskantoor geword,” sê sy.

Weens dié oorskakeling moes die poskantoor ’n nuwe perseel huur. Dit was egter nodig om weer te verskuif omdat daar volgens Gilchrist kontraktuele meningsverskille was tussen die verhuurder en die poskantoor. Die poskantoor is nou in Schoemanstraat 16 geleë.

“Ons vra al ons kliënte verskoning vir ongerief wat uit die verskuiwings gespruit het,” sê Gilchrist.

Die poskantoor en posbusse is elke dag van 08:00 tot 16:30 oop, met die poskantoor wat tussen 13:00 en 14:00 vir etenstyd sluit. Na 18:30 word die posbusse agter ’n pallisadeheining toegesluit.

Volgens Gilchrist wil die eienaar van die perseel weens sekuriteitsredes nie die posbusse na-ure oop laat nie, omdat dit ’n gevaar kan inhou vir kliënte wat na-ure na die posbusse gaan.

“Dieselfde reëls geld vir alle takke van die pos-kantoor regoor Suid-Afrika, as ’n voorkomingsmaatreël teen skade en om kliënte se veiligheid te probeer verseker, veral omdat daar ’n toename in rondlopers is,” sê sy.

Die tak op De Rust word deur slegs een persoon beman, en is daarom slegs twee naweke van die maand oop.

“Die tak is ook oop op die laaste Saterdag van elke maand, en die eerste Saterdag van die nuwe maand, van 08:00 tot 13:00”