Dysselsdorpers betoog Maandagoggend voor die Oudtshoorn Landdroshof teen borgtog vir Christopher Prins wat tereg staan vir die moord op die 20-jarige Ruwaan Kennedy wat volgens getuienis 26 keer met ’n mes gesteek is.
Foto: Garnett Wicomb

Die oorledene, Ruwaan Kennedy. Dié “saggeaarde,voor-beeldige en talentvolle” jong man het voor sy dood as deel van ’n internskapprogram by die KKNK-kantoor op Oudtshoorn gewerk. Foto verskaf
Deur Garnett Wicomb
HOFGANGERS het Maandag in die Oudtshoorn Streekhof na hul asems gesnak en familielede van ’n oorledene het hardop begin huil toe hulle hoor dat die 20-jarige Ruwaan “Boetie “ Kennedy 26 steekwonde opgedoen het toe hy die oggend van 4 Mei vanjaar buite ’n dansplek op Dysselsdorp koelbloedig vermoor is.
Die skokkende feite het na vore gekom in die getuienis van die ondersoekbeampte, sers Enver Wessels, in die borgaansoek van die verdagte moordenaar, Christopher Prins (27).
Prins staan tereg op klagtes van moord en poging tot moord en is deur streeklanddros Daniel Boks borgtog geweier.
Hy het aanvanklik nie in die distrikshof om borgtog aansoek gedoen nie, maar verlede week in die streekhof toe die verhoor moes begin van plan verander.
Gemeenskapslede van Dysselsdorp het vroeg-oggend voor die hofgebou teen die toestaan van borgtog betoog en ’n memorandum aan hooflanddros Jaco Lamprechts oorhandig.
’n Memorandum van die gemeenskap is nie die alfa en die omega van ’n borgaansoek nie, maar die hof sal sy plig versuim indien die gevoel van die gemeenskap nie in ag geneem word nie,” het die landdros in sy uitspraak gesê.
In die memorandum voer inwoners aan dat Prins besluit het om vir borgtog aansoek te doen omdat Kersfees nader kruip en hy op Dysselsdorp wil rondloop om weer misdaad te pleeg.
Die ondersoekbeampte het borgtog om verskeie redes teengestaan. Hieronder is Prins se rekord van vorige veroordelings vir ernstige aanranding. Hy is ook ’n vorige keer vrygespreek op ’n aanklag van moord terwyl ’n klagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer ook al teen hom teruggetrek is.
Volgens die ondersoekbeampte het al die voorvalle in dieselfde dansplek in Dysselsdorp plaasgevind met Prins wat mense met ’n mes gesteek het.
Hy het ook probeer om een van die getuies op die moordtoneel te steek en veld in gevlug. Hy het die klere wat hy aangehad het, gaan uittrek en ’n verkeerde woonadres verskaf wat vrese laat ontstaan dat hy nie vir die verhoor hof toe sal kom nie.
Die staatsaanklaer, Nadia Arnold, het vir weiering van borgtog gevra omdat Prins ’n geneigdheid tot geweld toon en die oorledene nie ’n wapen by hom gehad het nie. Sy rede vir borg dat hy vir sy twee kinders wil gaan werk, moet ook verwerp word omdat sy meisie wel werk en vir die kinders sorg.
Prins se regsverteenwoordiger, Cindy Smith van die plaaslike regshulpraad, het haar kommer oor hoorsêgetuienis uitgespreek en gesê dat dit in belang van geregtigheid is dat borgtog wel toegestaan behoort te word.
Leon Campher, gemeenskapsleier van Dysselsdorp, het die gemeenskap en familie se tevredenheid oor die weiering van borgtog uitgespreek.
Die saak is vir verhoor tot 19 November 2019 uitgestel.