Mark-Anthony Pheiffer (18) Foto: Facebook
’N GEWILDE oud-leerder van Ladismith en uitstekende rugbyspeler van die Kannaland Hoërskolerugbyspan, Mark-Anthony Pheiffer (18), is verlede week oorlede nadat hy ernstig beseer is in ’n ongeluk op die R62.
Mark-Anthony, sy ma, Ansunette, en ’n tannie, Marlene, was verlede Woensdag (6 November) op pad na Ladismith nadat hulle groente en vrugte vir hul besigheid op Oudtshoorn gaan koop het. Die ongeluk het omstreeks 16:15 plaasgevind.
Volgens ao Jannie Cedras, polisiewoordvoerder van Ladismith, was die ongeluk naby die Seweweekspoort-afdraai sowat 22 km vanaf Ladismith. Ansunette het na bewering beheer verloor oor die wit Hyundai H100 waarna die voertuig die pad verlaat en omgeslaan het.
Al drie insittendes is na die Alan Blyth Hospitaal op Ladismith gehaas. Mark-Anthony het later aan sy beserings beswyk.
Ansunette is na die George Hospitaal oorgeplaas, maar intussen weer teruggeplaas na die Alan Blyth Hospitaal waar sy behandel word.
Op Facebook skryf Calvin Esau, ’n verkeersman: “Ou seun, jy het nog vanoggend verby my gery en gehoet met jou vaal karretjie. Toe Cay-Lee my nou kom sê van jou dood, kon dit nie registreer nie. Jou tyding skok my vanaand. Rus sag, Mark, jy sal verseker gemis word.”
Die begrafnis vind volgens ’n familielid op 16 November plaas, en sal Ansunette die begrafnis onder mediese toesig mag bywoon en daarna terugkeer na die hospitaal toe.
(Deur Deon Meyer)