Ooievaar kuier by Wilgewandel

Baba Imke by haar ma Jessica. Dié klein dro­me­daris-kameel is twee weke gelede by Wilgewandel gebore. Foto verskaf

DIE Wilgewandel Vakansieplaas sowat 25 km buite Oudtshoorn op die Kango Grotte-pad, se span kamele het pas vermeerder met die geboortevan ’n nuwe klein kameeltjie twee weke gelede.

Die nuweling, Imke, is volgens Wilgewandel se eienaar, Pienaar Muller, op Saterdag 2 November tussen 07:00 en 08:00 gebore.

Hy vertel hulle het haar ma, Jessica, dragtig gekoop. “In ’n stadium het ons gedink sy het dalk haar babatjie verloor, en groot was die verrassing toe ons haar die oggend met haar baba in die kamp aantref.”

Kamele is volgens hom sowat 12 maande lank swanger.

Imke is na ’n jong familielid van die Mullers vernoem.

“Ons nooi Oudtshoorniete uit om vir baba Imke te kom kuier. Ons is dankbaar om nuwe lewe op die plaas te verwelkom,” sê Muller.

(Deur Angelique Erasmus)