Drie erg beseer

Sondag se botsingstoneel met talle omstanders wat gespanne gewag het, ook op die brug oor die pad, dat twee van die mans uit die Audi gesny word. Foto: Liesel le Roux

TWEE jong Oudtshoorniete sterk tans aan in die Mediclinic George nadat hulle erg seergekry het toe die Audi waarmee hulle en nog ’n vriend gery het, Sondag die pad verlaat en ’n tuin­muur langs Langenhovenweg op Oudtshoorn getref het.

Stiaan Swart (26) en Sarel-Blanco Kleyn (24) is dieselfde dag van die Oudtshoorn Hospitaal na die Medi­clinic George oorgeplaas weens die erns van hul beserings. Stiaan is met skedelbreuk in die hospitaal opgeneem terwyl Sarel-Blanco, wat erge pyn na die botsing verduur het, se linkerarm op verskeie plekke gebreek en sy elmboog vergruis is.

Die derde insittende, AJ Koen (28), se neus is in die botsing gebreek. Hy is Sondag reeds ontslaan.
Thea Swart, Stiaan se ma, het gister gesê hulle is baie dankbaar dat dit al veel beter met Stiaan gaan. Hy is by sy bewussyn en bloeding op die brein wat hy opgedoen het, het nie vererger nie.

Sarel-Blanco sou Saterdag aan sy eerste amateur-boksgeveg deelgeneem het nadat hy hard gewerk het om dié droom te verwesenlik. Hy was volgens ’n vriend topfiks en ge­reed om die bokswêreld te betree.
Hy sal verskeie operasies op sy arm moet ondergaan.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die botsing net na 13:00 plaasgevind toe die Audi ’n wit Toyota getref het wat van die regterbaan in Langenhovenweg na die linkerbaan beweeg het. Beide voertuie het vanuit George se rigting in Langenhovenweg na die dorp se kant toe gery.

Die Audi het hierna twee bome op die sypaadjie getref en toe half op ’n tuinmuur beland.

Visser sê die bestuurder van die wit Toyota, ’n Belgiese toeris, sê hy het gekyk voordat hy van baan verwissel het maar het geen voertuig agter hom gesien nie. Die bestuurder en passasier is nie in die botsing beseer nie, maar was baie geskok na die voorval. Hulle is op die toneel bygestaan deur Ilze Jacobs, die Suid-Kaapse noodkontakpersoon van die Wes-Kaapse Departement Eko­nomiese Ontwikkeling en Toerisme se toerisme-ondersteuningsprogram.

(Deur Liesel le Roux)